Pa van manslag aangekla ná slang seun byt

Tristian Frahm is verlede jaar dood nadat ’n slang hom gebyt het. Links is ’n ouer foto van Kerrod en Tristian. (Foto: Facebook / USA Today)

ʼn Australiese pa wat glo nie sy seun ernstig opgeneem het toe die kind gesê het hy is deur ʼn slang gebyt nie, word nou van manslag aangekla.

Tristian Frahm (11) is verlede November by ʼn eiendom in Murgon in Queensland dood enkele ure nadat hy sy pa, Kerrod (31), van die voorval ingelig het. Kerrod het egter glo versuim om vir sy seun enige mediese behandeling te kry.

The Daily Mail berig dat Tristian op 20 November by ʼn maat se huis gekuier het toe die slang hom gebyt het. ʼn Polisieondersoek na sy skielike dood ʼn jaar gelede het tot die aanklag teen Kerrod gelei.

Die polisie voer aan dat Frahm sy seun se pleidooie om hulp geïgnoreer het, en geen mediese hulp ontbied of nagestreef het nie.

The Courier Mail berig dat Kerrod en Tristian bed toe gegaan het nadat die kind sy pa van die slangbyt ingelig het, en dat Tristian se toestand daarna vinnig versleg het.

Beskikbare inligting dui daarop dat Tristian gedurende die nag siek gevoel en buite toe gegaan het. Sy lewelose liggaam is die volgende oggend naby ʼn skuur op die eiendom gevind.

Hartseer familielede het Tristian ná sy dood as ʼn “klein held” en “engeltjie” beskryf.

“Ek het geen woorde nie en die hartseer is ondenkbaar. Ek staan steeds verstom en in ongeloof,” het een familielid destyds op Facebook by foto’s en video’s van Tristian geplaas.

“Ek is liewer vir jou as wat ek ooit gedink het moontlik kan wees. Ek mis jou elke minuut meer en meer. Daar sal vir altyd ʼn gat so groot soos jy in my hart wees.”

Kerrod sal op 6 Desember in die Murgon-magistraatshof verskyn.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

isabelle ·

sjoe….dis baie erg Daai arme seun so pragtige gesiggie…wonder wat het deur sy kop gegaan toe hy buite toe is,moet n onverdraagsame gevoel en pyn wees :(

Goldy ·

Dit gebeur hier ook, onderwysers en ouers wat kinders se beserings aflag.

Vanessa ·

Ek sal nooit met myself kan saamleef nie. Hoe op aarde ignoreer mens dit!!!!!

Marcello ·

Sluit die Pa toe, en gooi die sleutel weg, hoe kan ‘n mens nie ag slaan op ‘n kind wat dit vir jou sê nie, dit is so goed soos om die kind te vermoor. ‘n Voorbeeld van ‘n Man, wat nie ‘n Pa genoem kan word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.