Ramaphosa onder diegene wat Poetin gelukwens

Suid-Afrika se pres. Cyril Ramaphosa en Russiese pres. Wladimir Poetin tydens ‘n beraad in 2019. (Argieffoto: Sergei Chirkov/AFP)

President Cyril Ramaphosa het Wladimir Poetin namens die Suid-Afrikaanse regering gelukgewens met sy herverkiesing tot president van Rusland.

Ramaphosa het die aandag gevestig op Suid-Afrika en die Russiese Federasie se verbintenis tot wedersydse samewerking op multilaterale vlak, onder meer die twee lande se gemeenskaplike lidmaatskap van die Verenigde Nasies, die G20, Brics en ander multilaterale liggame.

Ramaphosa het benadruk dat Suid-Afrika sterk glo in die handhawing van internasionale vrede en veiligheid en dat die land sal voortgaan om die Russiese Federasie sowel as Oekraïne te betrek in die strewe na blywende vrede tussen die twee buurlande.

China en Indië het Poetin ook vroeër gelukgewens met sy herverkiesing. Die 71-jarige Poetin het 87,28% van die stemme op hom verenig.

Noord-Korea se Kim Jong Un het gesê Russiese kiesers het hul “onwrikbare steun en vertroue” in Poetin getoon, terwyl talle Westerse moondhede die verkiesing as nie vry of regverdig nie bestempel het.

“Dit was ’n ongelooflike ondemokratiese proses,” het Vedant Patel, woordvoerder van die Amerikaanse departement van buitelande sake, gesê met verwysing na onderdrukking van die opposisie en media.

Die Britse minister van buitelandse sake, David Cameron, het gesê dat die verkiesing “die diepte van onderdrukking onder president Poetin se regime, wat poog om enige opposisie teen sy onwettige oorlog stil te maak, skerp onderstreep”.

Verskeie Midde-Oosterse moondhede het Poetin sterkte toegewens ná sy herverkiesing. Turkye se president Recep Tayyip Erdogan het die Russiese leier gelukgewens met sy herverkiesing en aangebied om tussen Moskou en Oekraïne te bemiddel.

Iran se president Ebrahim Raisi het Poetin se “beslissende oorwinning” geprys, terwyl Saoedi-Arabië se leiers hom “sukses en voorspoed” toegewens het.

Oekraïne se president, Wolodimir Zelensky, het die verkiesing as onwettig afgemaak.

“Almal in die wêreld verstaan dat hierdie persoon, soos baie ander deur die geskiedenis heen, siek geword het van mag en alles sal doen om vir ewig te regeer,” het hy gesê.

Europese Unie-lande het in ’n gesamentlike verklaring gesê Russe is ’n “regte keuse” geweier nadat alle kandidate wat teen die oorlog in Oekraïne gekant was, uitgesluit is.

Josep Borrell, hoof van die EU se buitelandse beleid, het gesê die stemming is “gegrond op onderdrukking en intimidasie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.