Russiese tiener probeer homself by Ortodokse skool opblaas

Die Russiese owerhede Maandag by die ingang van die Vvedenskiy Vladychniy-klooster in die stad Serpoekhof. (Foto: Dimitar DILKOFF / AFP)

Tien leerders is Maandag beseer toe ’n Russiese tiener (18) homself by ’n Ortodokse skool in ’n klooster buite Moskou probeer opblaas het.

Die aanvaller, ’n oudleerling van die skool, het die voorval oorleef hoewel sy been geamputeer moes word.

“Die persoon wat probeer selfmoord pleeg het, is in die waakeenheid [van ’n hospitaal],” het ʼn verteenwoordiger van die Russiese ondersoekkomitee, Olga Vradiy, ná die voorval aan verslaggewers gesê.

Volgens die Russiese ministerie van binnelandse sake het die tiener die Ortodokse gimnasium langs die Vvedenskiy Vladychniy-klooster in die stad Serpoekhof, 100 km suid van Moskou, binnegegaan en homself probeer opblaas.

Tien jonger leerders wat tydens die voorval beseer is, is almal in hospitale opgeneem hoewel hulle lewens buite gevaar is, het Ksenia Mishonova, die kinderregte-ombudsvrou vir die Moskou-streek, gesê.

Denis Ryabov, ’n leerling aan die skool, het gesê hy het saam met sy klasmaats gebid toe die voorval plaasgevind het.

“Ek het geruik iets brand en die onderwyser het gesê daar was ’n ontploffing. ’n Deur is weggeblaas. Sommige kinders het gehuil.”

Die tiener wou glo hê die toestel moes tydens oggendgebede by die skool ontplof. Dit het egter toe by die ingang van die skool ontplof, berig die Russiese nuusagentskap TASS.

Die motief vir die aanval is nog onbekend. Die Interfax-nuusagentskap berig egter die tiener wou moontlik wraak neem omdat hy deur nonne in die klooster geboelie is.

Vladimir Legoida, ’n woordvoerder van die Russies-Ortodokse Kerk, het intussen gesê dié kerk sal hulp verleen aan almal wat deur die voorval geraak word.

“Waar ook al sulke aanvalle plaasvind, veroorsaak dit dieselfde hartseer en ʼn begeerte om te verhoed dat dit in die toekoms weer gebeur,” het hy in ’n verklaring gesê.

Die ondersoekkomitee, wat erge misdade ondersoek, ondersoek tans ’n saak van poging tot moord en die onwettige hantering van springstof.

Rusland het die afgelope paar jaar ’n toename in aanvalle op skole beleef, hoewel voorvalle by godsdienstige persele skaars is.

Maroela Media het vroeër vanjaar berig ’n Russiese student het in September ses mense vermoor en tientalle ander gewond toe hy op ʼn universiteitskampus in Rusland losgebrand het.

’n 19-jarige man het ook in Mei nege mense by sy ou skool in die stad Kazan doodgeskiet.

’n Beroep is ondertussen op die Russiese regering gedoen vir strenger wapenbeheer en strenger veiligheidsmaatreëls by skole.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.