Slagoffer se klere verbind man met 1986-moord

Claire Gravel is in 1986 vermoor. (Foto: Massachusetts staatsaanklaer)

Nuwe bewyse wat aan die klere van ʼn moordslagoffer gevind is, het daartoe gelei dat ʼn man 36 jaar later van haar moord aangekla is.

John Carey (63) is Woensdag aangekla van die moord op Claire Gravel, ʼn vrou wat in Junie 1986 in Massachusetts in die VSA vermoor is. Sy was toe ʼn 20-jarige student aan die Salem State College.

Volgens ʼn verklaring deur die staatsaanklaer van Massachusetts se kantoor het ondersoekers oor die jare talle getuies en persone van belang ondervra en elke leidraad en brokkie inligting opgevolg, sonder sukses. “In 2012 het ons egter op nuwe leidrade afgekom deur Gravel se klere aan moderne, forensiese toetse te onderwerp. Hierdie leidrade en die onverpoosde werk van polisiespeurders wat spesialiseer in onopgelosde moordsake, het gelei tot die uiteindelike aanklag,” lui die verklaring.

“Vir 36 jaar het Claire Gravel se familie en vriende niks behalwe vrae oor haar dood gehad nie. Vandag kan ons vir hulle ʼn paar antwoorde gee,” het Jonathan Blodgett, staatsaanklaer van die Essex-distrik, Woensdag aan verslaggewers gesê.

Gravel is die laaste keer op die aand van 29 Junie 1986 lewend gesien. Sy is saam met vriende na ʼn plaaslike kroeg nadat hulle ʼn sagtebal-wedstryd gespeel het. ʼn Vriend het haar later ʼn saamrygeleentheid huis toe gegee. Haar liggaam is die volgende middag deur ʼn span werkers in die woud naby Roete 128 in Beverly gevind.

Bewyse wat aan Gravel se klere gevind is, was blykbaar deurslaggewend in die oplos van die saak en volgens die radiostasie KSRO hersien ondersoekers gereeld weer onopgelosde sake, met die hoop dat nuwe tegnologie en ʼn vars aanslag tot ʼn deurbraak sal lei.

Blodgett wou nie uitbrei oor wat presies die nuwe bewyse behels nie, berig The Daily Beast, en het net gesê dat hulle op grond van hierdie bewyse “oortuig is daarvan” dat Carey die moord gepleeg het. “Bewyse en feite wat nie voorheen bekend was nie, sal uitkom wanneer Carey op ʼn later stadium gedagvaar word.”

Carey dien tans tronkstraf uit vir poging tot moord nadat hy in 2008 sy buurvrou met ʼn das probeer verwurg het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank John ·

Gewoonte misdadiger, wat in duister gedoen word sal aan die lig kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.