‘Slimmondskerm’ om rugbyspelers teen kopbeserings beskerm

(Foto: Supersport.com)

Rugbyowerhede wil die gebruik van slimmondskerms implementeer om spelers teen kopbeserings te help beskerm, het Wêreldrugby Maandag gesê.

Wêreldrugby sal die “slimmondskermtegnologie” gebruik om onafhanklike dokters langs die veld bewus te maak van moontlike harsingskudding.

Die data wat verskaf word, sal dan deur die dokters gebruik word wanneer ʼn speler vir hoofbeserings geassesseer word om te bepaal of ’n speler wat vermoedelik harsingskudding opgedoen het, na die speelveld kan terugkeer of nie.

Die waarskuwings wat tydens spel deur die mondskerms aan die dokters gestuur word, sal wys of ’n speler “’n hoë vlak van versnelling ervaar het” wat tot ’n besering kan lei.

“Die jongste wetenskaplike navorsing en kundige mening sê vir ons een ding: Verminder die impak wat spelers aan hul koppe ervaar op alle vlakke van die spel,” het Wêreldrugby se mediese hoof, dr. Eanna Falvey, gesê.

“Die vooruitgang in slimmondskermtegnologie beteken dat daar beter na elite-spelers gekyk sal word as ooit tevore.”

Wêreldrugby het gesê hy belê €2 miljoen in die tegnologie, wat die eerste keer gebruik sal word in die komende WXV elite-vrouerugbytoernooi in Nieu-Seeland, wat later vandeesmaand begin.

Daar sal van elite-spelers verwag word om slimmondskerms tydens oefening sowel as wedstryde te dra.

Die beheerliggaam beveel ook die gebruik van die mondskerm op alle vlakke van die spel wêreldwyd aan en verhoog die terugkeer‑na‑speel-protokolle tot drie weke.

’n Groep van meer as 200 voormalige rugbyspelers, meestal beroepslui, het ’n eis teen Wêreldrugby en die beheerliggame van Engeland en Wallis ingedien.

Hulle beweer dat die beheerliggame versuim het om redelike stappe te doen om spelers teen moontlike kopbeserings te beskerm wat deur herhalende stampe veroorsaak word.

Steve Thompson, ’n Wêreldbeker-wenner saam met Engeland in 2003, is een van die voormalige spelers wat die saak aanhangig gemaak het.

Thompson het voorheen in die openbaar gepraat oor kwale wat hy ná sy rugbyloopbaan ontwikkel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.