Student veg vir behoud van Krugerplein, Afrikaanse straatname in België

Pieter Bester van België saam met sy pa, Pieter, en suster, Marché, voor die Delvillebos-monument in Frankryk. Die monument is opgerig ter ere aan die Suid-Afrikaanse Infanteriebrigade wat in die loop van die Somme-offensief (1 Julie tot 18 November 1916) in die Eerste Wêreldoorlog aan die slag by Delvillebos deelgeneem het. (Foto verskaf)

Al het Pieter Bester Suid-Afrika as sewejarige saam met sy ouers verlaat om in België te gaan woon, brand sy hart as 21-jarige student steeds met ’n passie vir sy vaderland se geskiedenis en sy mense.

Pieter het ’n tyd gelede in die koerant, Het gazet van Antwerpen, ’n artikel gelees oor die beoogde plein- en straatnaamveranderings wat die Borgerhout-stadsdistrik beplan.

Volgens inligting wou die stadsdistrik Krugerplein, wat na oudpres. Paul Kruger vernoem is, en straatname soos Cronjé, Botha, Delarey en Dewet (boeregeneraals) verander.

Pieter vertel hy het sy projek vir die behoud van Suid-Afrikaanse straatname deeglik beplan voordat hy tot aksie oorgegaan het.

(Foto verskaf)

Nadat hy die koerantartikel gelees het, het hy die webtuiste van die stadsdistrik besoek waar hy geskok was oor die “ongelooflike hoeveelheid vals inligting oor ons volk en ons geskiedenis” wat daar gepubliseer was.

“Ek wou eers sorg dat die inligting oor ons volk en die straatname reg vertel word. In die tweede fase sou ek teen die naamsverandering veg. Die naamsverandering self was nie vir my hoofprioriteit nie omdat ek nie self ’n inwoner van Borgerhout is nie.”

Hy verduidelik dat dit gou vir hom duidelik geword het dat dit nie die inwoners van Borgerhout is wat agter die straatnaamverandering sit nie, maar eerder politici wat politieke munt daaruit wil slaan deur Suid-Afrika se geskiedenis aan te val.

“As dit werklik vir die inwoners saak gemaak het, sou hulle na die stadsdistrik gestap het en gevra het dat die name verander na iets waarin hulle hulself meer vind.”

In verskillende artikels wat die stadsdistrik geskryf en op die webblad geplaas het, word ’n verband tussen Krugerplein, Kruger-, Cronjé-, Delarey- en Bothastraat en apartheid getrek. Daarin is beweer dat die wortels van apartheid in die koloniale geskiedenis van die land ontstaan het. In een van die artikels word genoem dat Bothastraat na Pieter Willem Botha vernoem is en nie na genl. Louis Botha nie.

“Dit is absurd, want in die stadsargiewe kan ’n mens sien dat die stadsdistrik van Borgerhout in 1900 die straatname vernoem het na die boeregeneraals en pres. Paul Kruger. Dit is gedoen om solidariteit te betoon met die boere in die Tweede Vryheidsoorlog.”

Pieter sê die artikels is besonders slordig en dit is vir hom ’n bewys dat dit ’n ideologiese stryd is.

Hy het aan Inne Peeters, gemoeid met kultuuraangeleenthede by die stadsdistrik, geskrywe en sy saak met feite gestel. Hy is uiteindelik ingelig dat die straatnaamveranderinge nie sal voortgaan nie en dat die stadsdistrik amptelik besluit het om inligtingsbordjies by die straatname aan te bring om konteks daaraan te gee. Die besluit sal later vanjaar aan die publiek deurgegee word.

Volgens Pieter gaan hy dophou dat die bordjies aangebring word asook dat die meegaande inligting daarop korrek is. “Solank ek in België bly, sal ek enige naamsverandering en vals voorstellings van ons volk teenstaan. Dit is ook belangrik om te wys dat ons geskiedenis gaan oor ’n sterk band tussen die Vlaminge en Afrikaners. Dit is ongelooflik dat Afrikaners as klein volk so ’n groot impak gehad het op die res van die Westerse wêreld.

“Die voetspore van ons voorouers is oral te vind in Europa. In die strate, pleine, herberge en selfs ’n duin aan die kus van België is na ons generaals, presidente en slagvelde vernoem.”

Pieter studeer elektromeganika en is tans in sy finale jaar. Hy is nog nie seker of hy sy meestersgraad in ingenieurswese wil doen nie, omdat hy graag wil begin werk.

As gebore Pietersburger wil Pieter graag in ’n stadium na Suid-Afrika terugkeer. “Ek was baie bevoorreg om hier in België op te groei, maar iets wat min mense verstaan is dat om te trek nie al ’n mens se probleme oplos nie. Ja, Suid-Afrika het baie probleme, maar daar is oplossings en, belangriker nog, daar is mense wat iets aan die probleme wil doen.

“Hier in Europa is daar sedert die pandemie net krisis op krisis en alhoewel dit nog in toom gehou word, is dit nie ’n volhoubare situasie nie. Daar moet verandering kom, maar die burokrasie bemoeilik die proses. Verder is dit nie hier soos in Suid-Afrika nie. Hier verwag die mense steeds dat die regering of ander instansies hulle moet red, terwyl ons lankal weet dat ’n volk homself moet red.”

Pieter glo dat kultuur die fondasie is waarop ’n samelewing gebou is. “Wat ons erf, moet ons beskerm, onderhou en verbeter, en nie vernietig nie.

Terwyl hy dié stryd agter die skerms veg, was die kwessie van Borgerhout se straatname ook onlangs ’n gesprekspunt op Twitter.

Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging, het Filip Dewinter, Vlaamse parlementslid, in Maart ontmoet waar hulle die plein saam besoek het.

“Deel van ons kulturele erfenis en verbintenis is met Paul Kruger en sy boere. Ons het hulle ondersteun en dit moet vandag voortgesit word met steun vir Afrikaners se saak. Ons praat dieselfde taal,” het Dewinter gesê.

Kleynhans het gesê Krugerplein vertel die verhaal van 150 jaar se vriendskap tussen twee volkere naamlik die Vlaminge en die boerevolk. Met verwysings na die name het hy gesê die geskiedenis moet ook aan die volgende generasie Vlaminge vertel word. Ons het ’n tuiste in Antwerpen Vlaandere.”

  • Hierdie artikel is met die vergunning van AfriForum geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Henry ·

hoekom wil mense heeltyd net name verander
n mens kan net nie bybly nie
dit he

Jean ·

Dit geld seker dan vir ons Afrikaanse straat name ook, want die ANC is in bewund.

Hendrik ·

Baie dankie Pieter! In jou klop ‘n boerehart – jy het reeds ‘n groot verskil daar gemaak en dit is mense soos jy wat ook ‘n verskil hier gaan kom maak. Dit is verseker!

George ·

Vir wat?? Maar Afrikaners wil nie die Britte se name behou nie. Nee wat Belgie, raak ontslae as julle wil

Republikein in die Wes Kaap ·

Dis België. Hulle kan seker doen wat hulle wil.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ja, en ‘n trotse burger van ‘n onafhanklike Wes Kaap. Maar beslis nie trots op die res nie. Ek het aanbeweeg. Jy moet dieselfde doen Blikke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.