Talle wapens in skoolskieter se ouerhuis versteek

(Photo by Brendan Smialowski/AFP)

Die oudleerder wat Maandag drie jong kinders en drie personeellede by ’n private laerskool in Nashville, Tennessee, doodgeskiet het, kon ondanks bewyse van geestesgesondheidkwessies steeds verskeie wapens aankoop.

John Drake, polisiehoof van Nashville, het aan verslaggewers gesê dat die skieter, Audrey Hale, behandeling vir ’n emosionele versteuring ontvang het. Sy is kort ná die voorval deur die polisie doodgeskiet.

Hale se ouers sê hul kind – wat by hulle in die huis gewoon het – het slegs ’n enkele geweer aangekoop, maar volgens hulle is dit glo weer later verkoop.

Beeldmateriaal wys egter hoe Hale met minstens twee aanvalsgewere en ’n handwapen die Christelike skool, The Covenant School, binnegegaan het. Sy het deur ’n deur geskiet en verskeie skote afgevuur terwyl sy deur die gebou stap.

Een van die kinders wat doodgeskiet is, was agt jaar oud en die ander twee nege. Die drie personeellede wat tydens die aanval dood is, was tussen die ouderdomme van 60 en 61.

“Hale het by vyf verskillende plaaslike wapenwinkels sewe vuurwapens wettig aangekoop,” sê Drake.

“Sy het mediese behandeling vir ’n emosionele versteuring ontvang en haar ouers het gevoel dat sy nie wapens moet besit nie. Dit lyk egter of sy verskeie wapens in die huis weggesteek het.”

Volgens Drake het Hale ’n manifes agtergelaat, kaarte gehad van die skool wat toesig- en toegangspunte bevat en was sy “voorbereid vir ’n konfrontasie met wetstoepassingsowerhede”. Hale het glo beplan om ook ander plekke te teiken, sê Drake.

‘n Voormalige skoolmaat, Averianna Patton, het aan CNN gesê Hale het die oggend van die skietery ’n Instagram-boodskap gestuur.

“Dit sal eendag meer sin maak, ek het genoeg bewyse agtergelaat. Maar iets sleg is op die punt om te gebeur,” lui die boodskap.

Patton het gesê sy het die polisie gebel om hulle te waarsku teen die tyd wat die aanval begin het.

Beeldmateriaal van sekuriteitskameras wys hoe Hale met ’n swart militêre-styl baadjie, kamoefleerbroek en rooi bofbalpet by die skooldeur inhardloop. Dan kan gesien word hoe sy deur die gebou beweeg en op personeel en kinders losbrand.

Die beeldmateriaal wys ook dat die polisie ongeveer 15 minute later by die toneel opdaag, deur die klaskamers beweeg en later vir Hale doodskiet.

Ouers en kinders het met sonsondergang Dinsdag voor ’n tydelike gedenkteken buite die skool bymekaar gekom om die slagoffers van die tragedie se dood te betreur.

Een van die kinders wat vermoor is, was Hallie Scruggs, die dogter van ʼn plaaslike pastoor, Chad Scruggs.

“Ons harte is baie seer. Sy was ’n geskenk,” het die pastoor aan plaaslike media gesê.

Die leerlinge en personeel is glo nie individueel of persoonlik geteiken nie en geen motief is al geïdentifiseer nie.

President Joe Biden het die jongste skietery as “siek” beskryf en gesê wapengeweld verskeur Amerika se “siel”.

Hy moedig die Kongres aan om die nasionale aanvalsgeweerverbod, wat van 1994 tot 2004 bestaan ​​het, weer in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.