‘That 70’s Show’-akteur skuldig aan verkragting

Danny Masterson. (Foto: Invision/AP, File)

ʼn Jurie in Los Angeles in die VSA het Danny Masterson, ʼn akteur in That 70’s Show, skuldig bevind op twee van drie aanklagte van verkragting.

Dié akteur word nou deur ʼn moontlike 30 jaar agter tralies in die gesig gestaar.

Drie vroue, almal voormalige lede van die Kerk van Sciëntologie, het Masterson van seksuele misdade beskuldig. Hy staan ook as ʼn vooraanstaande lid van dié kerk bekend.

Die aanrandings het na bewering tussen 2001 en 2003 in sy huis in Hollywood plaasgevind.

“Ek ervaar ʼn komplekse verskeidenheid van emosies; verligting, uitputting, krag en hartseer,” het een van Masterson se slagoffers aan The Associated Press gesê, “wetende dat my aanrander verantwoordbaar gehou gaan word vir sy kriminele gedrag.”

Masterson is in 2017, toe die #MeToo-beweging hoogty gevier het, die eerste keer van seksuele wangedrag beskuldig. In daardie stadium het hy gesê dat hy nie aangekla of skuldig bevind is aan ʼn misdaad nie, en in daardie klimaat “blyk dit dat jy aanvaar word as skuldig die oomblik dat jy beskuldig word”.

Drie jaar ná dié aantygings die eerste keer die lig gesien het, is hy eindelik formeel in Los Angeles aangekla.

In die loop van die hofsaak het die aanklaers aangevoer dat die Kerk van Sciëntologie die aanrandings probeer toesmeer het, iets wat die kerk deur die bank ontken het.

“Die kerk was nie ʼn party in hierdie saak nie en geloof het nie in hierdie hofsaak gehoort nie,” het kerkbeamptes op Twitter laat hoor.

Tydens die voorvalle was al drie slagoffers lede van die Kerk van Sciëntologie. Daarmee saam hou hulle vol dat die rede waarom hulle so lank gevat het om Masterson aan te kla, die kerk se inmenging in die saak was.

Aanklaers het aangevoer dat die slagoffers op die kerk se “interne regstelsel” moes staatmaak om aandag aan die saak te gee, en dat kerkbeamptes hulle ontmoedig het om formele klagte by die polisie te lê.

Bykomende bron: BBC News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Harley Davidson ·

Daar moet ‘n tydperk ingestel word waarop die saak nie meer geopen kan word nie ,party vroue wag dekades en wanneer die beskuldige beroemdheid verwerf dan kruip hulle uit hulle doppe.

ES ·

Laat hy maar sit in die tjoekie. Daar is baie omstredenheid oor die kerk van Sciëntologie, maar om ‘n kerk te blameer vir jou gruweldade is net soos die terroriste in Ooste wat hul geloof as verskoning gebruik om hul eie terreurdade te pleeg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.