‘The Serpent’ uit tronk in Nepal vrygelaat

Charles Sobhraj in 2011. (Foto: Prakash MATHEMA / AFP)

Die Franse reeksmoordenaar Charles Sobhraj, wat in die 1970’s verskeie jong buitelanders reg oor Asië vermoor het, is Vrydag uit aanhouding vrygelaat nadat hy byna 20 jaar in ’n Nepalese tronk deurgebring het.

Nepal se hooggeregshof het Woensdag beslis dat die 78-jarige Sobhraj – wie se lewensverhaal in die suksesvolle televisiereeks The Serpent vertel word – vrygelaat word nadat sy regspan suksesvol in ’n petisie aangevoer het dat hy weens gesondheidsredes vroeër vrygelaat moet word.

Sobhraj het ’n hartkwaal waarvoor hy ’n hartoperasie in 2017 ondergaan het.

’n Bepaling in Nepalese wetgewing maak daarvoor voorsiening dat gevangenes wat goeie gedrag getoon het en 75% van hul tronkstraf uitgedien het, vrygelaat kan word.

Sobhraj het voor sy vrylating twee vonnisse van 20 jaar elk gelyklopend in Nepal se hoofstad Katmandoe uitgedien vir die moord op ’n Amerikaanse vrou, Connie Jo Bronzich, in 1975 en haar Kanadese rugsakreisigervriend, Laurent Carriere.

Sobhraj word egter met meer as 20 moorde tussen 1972 en 1982 verbind, waartydens die slagoffers bedwelm, verwurg, geslaan of aan die brand gesteek is.

Sobhraj het ’n Indiese pa en ’n Viëtnamese ma wat later met ’n Fransman getroud is.

Sobhraj het hom in 1975 in Thailand bevind waar hy hom as ’n edelsteenhandelaar voorgedoen en met sy slagoffers bevriend geraak het. Baie van sy slagoffers was Westerse rugsakreisigers op die hippie-roete.

Sy eerste slagoffer was ’n jong Amerikaanse vrou wie se liggaam in 1975 in ’n bikini op ’n strand gevind is waarvoor hy later as die Bikini-moordenaar bekend gestaan het.

Sobhraj is in 1976 in Indië in hegtenis geneem en het 21 jaar in die tronk daar deurgebring. Hy het egter in 1986 ’n tronkbewaarder bedwelm en ontsnap, maar is weer later in die Indiese kusstaat Goa aangekeer.

Sobhraj is eindelik in 1997 vrygelaat en hy het in Parys gaan woon waar hy betaalde onderhoude aan joernaliste toegestaan het. In 2003 het hy na Nepal teruggekeer.

Dit is hier waar die joernalis Joseph Nathan, een van die stigters van die koerant The Himalayan Times, hom toevallig in ’n casino opgemerk het en hy later weer in hegtenis geneem is.

“Hy het skadeloos gelyk… Dit was blote geluk dat ek hom herken het,” het Nathan Donderdag aan AFP gesê. “Ek dink dit was karma.”

’n Hof in Nepal het Sobhraj die volgende jaar lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op Bronzich. Hy is ’n dekade later ook aan Carriere se moord skuldig bevind.

Sobhraj hou egter vol hy is onskuldig en beweer hy was nog nooit in Nepal voor die reis in 2003 toe hy in hegtenis geneem is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.