
Alexander and Mary Holverson (Foto: Henry Aldridge and Son Auctioneers via AP)
ʼn Brief wat deur een van die Titanic se passasiers geskryf is ʼn dag voor dié skip gesink het, is vir £126 000 (R2,2 miljoen) in Engeland verkoop.
Dié handgeskrewe brief is op 13 April 1912 op gemerkte Titanic-papier geskryf, deur ʼn eersteklaspassasier genaamd Alexander Oskar Holverson. Dit is die dag voor die skip ʼn ysberg in die Noord-Atlantiese Oseaan getref en gesink het, en sodoende meer as 1 500 passasiers se lewens geëis het.
Holverson, wat ʼn verkoopsman was, was saam met sy vrou op die skip en was van plan om die brief aan sy ma te pos as hulle in New York aankom.
Henry Aldridge & Son, die afslaer wat in Titanic-memorabilia spesialiseer, het gesê dié brief is “een van die belangrikste Titanic-briewe wat al ooit opgeveil is”, as gevolg van die inhoud daarvan en oor die historiese konteks en skaarsheid van die brief.

Die brief wat Holverson geskryf het (Foto: Henry Aldridge and Son Actioneers via AP)
Die brief begin met “My liewe Ma”, waarna Holverson die Titanic beskryf: “massief in grootte en opgestel soos ʼn luukse hotel. Die kos en drank is uitsonderlik.”
In ʼn aangrypende sin skryf hy: “As alles goed gaan, sal ons Woensdagoggend in New York aankom.”
Dié brief, een van die laastes wat deur slagoffers van die tragedie geskryf is, is in Holverson se sak in ʼn notaboekie gevind. Dit is later na sy familie gestuur.
Holverson se vrou het die Titanic-ramp oorleef.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
13 Kommentare
Maroela, is dit nou Holversson, Hoverson of Holverson?
Wat maak jy in elk geval met so iets, bêre in ‘n kluis?
Dalk hang teen ‘n muur met die moontlikheid dat iemand dit kan beskadig. Dalk verkoop aan iemand anders wat ook nie weet wat om met sy geld te doen nie.
Ek is van mening dat die brief historiese waarde sou gehad het as dit tydens wrakherwinningspogings ontdek is. Daar het wel baie mense uit die see gekom met horlosies, notaboekies en soortgelyke items wat dan ook beskou kan word as histories waardevol. Nee wat, pure lawwigheid as jy my vra!
Dit lyk kompleet of daar n mans gesig op die linkerkant is waar die vlek is???
Dit is jammer dat baie min mense die waarde van iets besef.Eers wanneer jy baie ervarings in die lewe gehad het besef jy wat waardevol is.