ʼn Tweeling van Earlimart, Kalifornië, in die VSA maak wêreldwyd opslae nadat hulle in verskillende jare gebore is.
Joaquin de Jesus Ontiveros is om 23:58 op 31 Desember 2017 gebore terwyl sy tweelingsussie, Aitana, om 00:16 op 1 Januarie 2018 gebore is.
WSMV Nashville berig Aitana was ʼn brugbaba en moes deur ʼn keisersnee in die lewe gebring word. Sy is glo ook die eerste baba wat in 2018 in Kern County gebore is.
Volgens The Daily Mail moes die tweeling eers op 27 Januarie 2018 gebore word, maar hul ma, Maria de Jesus Ontiveros, het op Oujaarsaand om 19:00 in kraam gegaan en is na die Delano Regional Medical Center in Kalifornië gehaas.
Maria en haar man, Joaquin, is beide plaaswerkers wat ook drie ander dogters het. Organisasies het intussen meer as $3 000 (ongeveer R37 000) se benodighede soos bottels en doeke aan die paartjie geskenk.
ʼn Woordvoerder van die familie het aan die Daily Mail Online gesê albei babas en hul ma is gesond en gereed om huis toe te gaan.
“Dit was beslis ʼn verrassing! Die hele familie voel nederig, geseënd en opgewonde,” het die woordvoerder gesê.
Wonderlik! Nou het die tweeling elk hulle eie verjaardag en jaar…
Netsoos jy daar se Duifie dit is nou cool!!!!
My tweeling is gebore 11/11/88 om 2 uur die middag! Dit was nie beplan nie.
WOW! Absoluut niks te doen met die berig of enigens n spesiale datum nie, maar well done pel!
Ek dink die datum gaan oor dit dubbel syfers is heeltyd
Dit is nou regtig uitsonderlik! My 2 kinders is 3 jaar uitmekaar albei op 10 Maart gebore. Glad nie beplan, albei normale geboortes.
Hy sal vir sy sussie moet luister sy is ouer…………….
Andersom Mike!
Nee Mike…hy is ouer as sy sussie!
Hy is die oudste van hul 2.
Maroela Media… ‘n Baba wat met die boudjies eerste gebore word is ‘n “stuit”. Nie “brug” nie. Dit kom van die Engels “breech” af, en nie “bridge” nie. Dit is uiters swak Afrikaans.
Ingrid, die oumense het ook altyd van brugbaba’s gepraat. Nog nooit gehoor van ‘n stuitbaba nie.
Weer ‘n tipiese voorbeeld van waarom julle moet ophou om dollarbedrae na randwaarde om te skakel. $3000 mag wel sowat R37000 wees maar bottels en doeke kos nie dieselfde in Kalifornië as hier nie en dit is ernstig te betwyfel of hulle soveel gekry het as wat met R37 000 gekoop kan word.
Inteendeel is baba goed in SA baie duurder as in die VSA, ons het 95% van ons goed van Amerika af in laat bring, en elke keer was dit 60% goedkoper as in SA, insluitend aflewering ens
Wonder waarom die taal Nazi’s nie maar hul eie platform stig waar hulle na hartelus ander en mekaar kan korrigeer nie?
Die mooiste ou babatjies! Hulle lyk heel gelukkig en rustig!
My man se 3 dogters is almal in dieselfde maand gebore – 2 oudste dogters is 2 jaar uitmekaar op dieselfde dag – 20e van die maand gebore en die 3e dogter op die 9e
Ek ken ook net brug. Ken nie stuit nie.
Jy is reg, Ingrid. My woordeboek praat van ‘n stuitgeboorte.