Twitter se waarde tuimel met 50%

(Foto: pixabay)

Twitter se waarde het in net vyf maande met meer as die helfte getuimel.

Elon Musk, Twitter se huidige eienaar, het in ʼn interne e-pos aan werknemers bevestig dat die waarde van dié sosialemediaplatform van $44 miljard (meer as R800 miljard) na $20 miljard gekrimp het. Dié e-pos is aan die Amerikaanse media uitgelek.

In die e-pos verwys Musk na ʼn nuwe aandelevergoedingsprogram vir Twitter en die toekenning van aandele aan werknemers van X Holdings – Twitter se sambreelmaatskappy.

Hierdie vergoedingsplan waardeer die platform op $20 miljard, effens meer as Snapchat se moedermaatskappy Snap, wat op $18,2 miljard staan, en Pinterest wat vir $18,7 miljard gewaarder word. Beide Snap en Pinterest is gelyste maatskappy, anders as Twitter.

Musk, wat ook die uitvoerende hoof van Tesla en die ruimtevaartgroep SpaceX is, verduidelik dat die nuwe plan sy werknemers sal toelaat om elke ses maande aandele te verhandel.

Twitter het nie op AFP se navrae in dié verband gereageer nie.

Musk sê verder in dieselfde e-pos dat Twitter se finansiële situasie in ʼn stadium só benard was dat die maatskappy op die rand van bankkrotskap gestaan het.

In ʼn inskrywing Saterdag op Twitter sê hy dat Twitter geneig was om net $3 miljard per jaar te verloor. Nou het die platform byna $4,8 dollar per maand oor die afgelope vyf maande verloor.

Volgens Musk is die maatskappy se finansiële situasie “beroerd”.

Hy het egter aangedui dat dit darem nou lyk of die maatskappy in die tweede kwartaal gelyk sal breek.

Dit kan glo toegeskryf word aan die terugkeer van adverteerders na die platform nadat talle adverteerders hulle onttrek het toe Musk Twitter oorgeneem het.

Musk het ook die maatskappy se personeelkorps van 7 500 mense na minder as 2 000 werknemers verminder.

In sy e-pos aan werknemers sê Musk verder dat hy ʼn “duidelike, maar moeilike pad” sien waar die maatskappy op $250 miljard gewaardeer word. Hy het egter nie aangedui hoe lank dit sal neem om dié syfer te bereik nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.