Vermiste Indonesiese vliegtuig gevind

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Soek-en-reddingspan het die wrak van die Indonesiese passasiersvliegtuig wat met 54 mense aan boord verdwyn het, gevind.

Susanto, hoof van die soek- en reddingseenheid in Jayapura, die hoofstad van die Papua-provinsie, het bevestig dat die wrak gevind is. Soldate, polisiebeamptes en reddingswerkers is op pad na die toneel waar die vliegtuig naby Oksibil neergestort het.

“Sowat 60 personeellede van die soek-en-reddingseenheid, die weermag en die polisie is op pad na die toneel, maar ons weet nog nie presies waar hulle is nie aangesien daar geen sein vir kommunikasie is nie,” het J.A.A Barata, woordvoerder van die vervoerdepartement, gesê. Hy het gesê die reddingsoperasie word bemoeilik deur gure weer en die bergagtige gebied waar die vliegtuig neergestort het.

Die vliegtuig van Trigana Air Service was op pad van Jayapura na Oksibil en kontak is enkele minute voordat die vliegtuig moes land, verloor. Daar was 49 passasiers, onder wie vyf kinders, en vyf bemanningslede aan boord van die ATR42-300-vliegtuig. Die vlug was veronderstel om sowat 42 minute te duur.

Groot gedeeltes van die Papua-provinsie is bedek met ondeurdringbare oerwoude en berge. Sommige vliegtuie wat voorheen daar neergestort het, is nooit gevind nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.