Video: Ma veg verbete toe ‘ontvoerder’ kleuter gryp

Die ma het verbete baklei om haar kind uit die motor te kry. (Skermgreep: Crime Stoppers/Twitter)

Beeldmateriaal van ʼn ma wat verbete baklei om haar vyfjarige seuntjie uit die kloue van ʼn vermeende ontvoerder te hou, het soos ʼn veldbrand versprei.

Op die video van die voorval wat Donderdag in Queens, ʼn buurt in New York, plaasgevind het, kan gesien word hoe Delores Diaz op die motor afstorm nadat ʼn man haar vyfjarige seuntjie, Jacob, gryp en in ʼn motor prop.

Die man het kort tevore uit die voertuig wat langs die pad stilgestaan het gespring, oor die sypaadjie gehardloop en die seuntjie gegryp terwyl dié ʼn paar treë voor sy ma gestap het. Die gesin was op pad na Diaz se man se werk.

Diaz, haar ander seun Benny (9) en dogter Zuriely (8) het klein Jacob agternagesit en probeer uitpluk uit die agterste sitplek van die motor, waar die vermeende ontvoerder hom ingedruk het.

Benny het volgens Daily News gesê die man wat sy boetie gegryp het, het gesê hulle moet die kind vat, terwyl ʼn ander, ouer man hom aangesê het om die seuntjie te laat gaan.

“Ek het vir die man gesê: ‘Gee my boetie terug!’” het Benny volgens die webwerf gesê.

Jacob het aanvanklik glo op die agterste sitplek gaan sit, maar het opgestaan toe sy gesin na hom roep. Diaz het Jacob deur die oop passasiersvenster uit die motor uitgepluk.

“My boetie was slim en het opgestaan sodat my ma hom aan die arms kan optel,” vertel Benny.

Die twee mans het weggejaag toe ander weldoeners op die toneel toegesak en die polisie ontbied het. Volgens Diaz het sy die verdagte nog nooit gesien nie.

Die man is kort daarna in hegtenis geneem nadat polisiebeamptes, wat op ʼn onverwante saak by ʼn hospitaal in die gebied was, hom van die beeldmateriaal herken het. Hy het glo iemand by die hospitaal met die vuis in die gesig geslaan.

Die verdagte is intussen geïdentifiseer as die 24-jarige James McGonagle, ʼn inwoner van Queens. Die man saam met hom die voertuig was volgens sommige bronne sy pa, ook James.

Independent berig McGonagle is Vrydag in ʼn hospitaal se psigiatriese afdeling opgeneem. Die saak teen hom is egter uitgestel nadat hy glo Saterdag boonop ʼn polisiebeampte bygedam het wat sy vingerafdrukke probeer neem het.

“Jy kan nie voor ʼn regter verskyn voordat ons jou formeel geïdentifiseer het nie en hy laat nie toe dat ons sy vingerafdrukke neem sonder om ons in die gesig te slaan nie,” het ʼn bron in die New Yorkse polisie aan Independent gesê.

“Hy gaan vir nog ʼn geruime tyd ʼn gas van die staat wees.”

Benewens aanklagte van poging tot onvoering, roekelose gedrag en optrede wat ʼn kind kan beseer, staar ʼn bykomende aanklag van aanranding van ʼn polisiebeampte McGonagle nou in die gesig.

Die soektog na sy pa duur intussen voort.

Jacob is ongedeerd ná die voorval, maar die drie kinders is steeds uiters getraumatiseer en wil glad nie uit die huis gaan nie.

Diaz sê ʼn ma sal doen wat sy moet om haar kinders veilig te hou, maak nie saak wat nie.

“Ma’s moet versigtig saam met hul kinders wees. Hou altyd hulle hande vas wanneer julle stap. Daar is baie bose mense en jy weet nooit wie is naby nie,” het sy volgens ABC7 se Eyewitness News gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Blomme ·

Goeie Nuus dat die nagmerrie vir die Mama goed geeindig het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.