Video: Warmlugballon doen noodlanding in buurt

Almal aan boord was ongedeerd en passassiers het die vlieënier geloof vir sy kalm optrede. (Foto: MelissaBrownABC/Twitter)

ʼn Splinternuwe warmlugballon wat net nie behoorlik wou vlieg nie, het met die vreesbevange passasiers aan boord ʼn noodlanding in ʼn woonbuurt in Melbourne gedoen. En hoewel hulle nou daaroor kan lag, was die ondervinding in daardie stadium nie juis snaaks nie.

Nick Brau, die vlieënier, het aan BBC gesê die warmlugballon het sy eerste vlug oor die Australiese stad onderneem en het geëindig met die ballon gedrapeer oor twee dakke in die suidelike woonbuurt Elwood. Foto’s wys hoe die mandjie in ʼn parkeerterrein te lande gekom het.

Brau, direkteur van Liberty Balloon Flights, kon minstens die lamppale en oorhoofse kabels omseil. BBC berig verskeie geboue wat hy nié kon vermy terwyl die ballon hoogte verloor het nie, is egter beskadig.

Brau het volgens die BBC gesê dit is sy eerste vliegongeluk in die 27 jaar wat hy al met warmlugballonne vlieg en hy is nie seker wat presies skeefgeloop het nie.

Die Australiese Vervoerveiligheidsburo sal ʼn ondersoek na die voorval doen.

Sy passasiers het Brau geloof vir sy vermoë om kalm in ʼn krisis te bly en veilig te land. Die ballon was deel van ʼn vloot van ses, met die ander vyf warmlugballonne wat sonder voorval geland het.

Jayde Magookin, een van die passasiers, het ʼn video van die noodlanding gemaak wat sedertdien wyd op sosialemediaplatforms gedeel is. In die beeldmateriaal kan gesien word hoe Magookin (34) se vrou, Aelia (30), senuweeagtig in ʼn hoekie van die mandjie inkruip terwyl die warmlugballon deur die boomtakke ploeg.

Die paartjie sou al twee weke gelede die vroegoggendvlug onderneem het, maar dit is uitgestel omdat Jayde Magookin van ʼn hartaanval herstel het. Magookin, wat vantevore boonop hoogtevrees gehad het, sê die ondervinding het hom egter meer vertroue gegee om sy vrees te oorkom. En hy is gereed om nog ʼn warmlugballonvlug te onderneem.

Geen van die 13 mense aan boord van die warmlugballon óf op die grond is beseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Samuel ·

Dit is wonderlik dat die vlieënier kalm gebly het. Dit is inderdaad ‘n wonderwerk.

Waarnemer ·

Wonderwerk of praktiese ervaring?Die warmlugballon vlieenier is duidelik ervare daarom kon hy die situasie kalm hanteer…geen wonderwerk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.