Vrou oorleef haai-aanval in Amerika

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Pixabay.com)

ʼn Vrou het wonderbaarlik ʼn haai-aanval in die stranddorp Del Mar, San Diego, in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië oorleef nadat lewensredders tot haar redding gekom het.

Die haai was vermoedelik darem net ʼn jong withaai.

The Guardian het berig dat lewensredders op 4 November ʼn vrou en haar vriend net ná 10:00 in die see gewaar het. Die twee was glo op pad uit die see ná ʼn lang swemsessie.

“Hul swemstyl het ʼn paar meter van die strand af skielik verander en die vrou se vriend het sy arms in die lug gegooi,” het Jon Edelbrock, lewensredderhoof van Del Mar, gesê.

Lewensredders het die paartjie terug strand toe gehelp, maar nie die haai gewaar nie.

Die vrou is by ʼn hospitaal behandel vir skeurwonde aan haar regterbobeen.

“Sy het ʼn wakker swemmaat gehad, maar hulle was albei deurlopend baie kalm.”

Kenners vermoed dat dit dalk ʼn withaai kon wees wat die vrou aangeval het. Daar word egter steeds op amptelike bevestiging gewag. Jong withaaie swem wel dikwels aan die kus van Del Mar.

‘Ek is gebyt! Ek is gebyt!’

Lyn Jutronich, die vrou wat dié aanval oorleef het, het intussen die aanval aan NBC San Diego oorvertel en die vrees wat sy in daardie oomblik ervaar het.

Volgens Jutronich het sy en haar lewensmaat, David, rustig in die water gedobber ná hul swemsessie. Die twee het gepraat oor wat hulle vir ontbyt sou eet toe sy gevoel het hoe iets aan haar stamp.

“Ek het afgekyk en gesien hoe die haai my bobeen byt,” het sy gesê.

“Gelukkig het die dier my been gelos, maar my wel een keer geskud voordat ek uit sy greep kon ontsnap.”

Jutronich het angsbevange na haar lewensmaat geroep dat sy gebyt is en die twee het met behulp van lewensredders by die strand uitgekom.

“Ek het ʼn paar taamlik erge wonde, maar geen groot are is getref nie. Daar is ook geen senuweeskade nie, net ʼn reuse-bytmerk aan my been.”

Jutronich het gebieg dat sy nie sommer gou weer die see sal betree nie, maar nie omdat haar liefde vir swem enigsins minder is nie.

“My wonde moet eers genees, dan sal ek dit van daar af vat.”

Jutronich swem al haar hele lewe lank en is boonop deel van ʼn groep seeswemmers wat byna daagliks in die see aangetref kan word.

“Ek voel geseënd dat, ten spyte van alles, dit baie goed met my gaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.