Warren Buffet onttrek uit koerantbedryf

Warren Buffet (5 Mei 2019) (Foto: AP Photo/Nati Harnik, File)

Miljardêr Warren Buffet het uit die koerantbedryf onttrek.

Hy het al sy Berkshire Hathaway-publikasies aan Lee Enterprises verkoop vir $140 miljoen (net meer as R2 miljard). Dit sluit die Omaha World-Herald in Nebraska en The Buffalo News in New York in.

Buffet was jare lank ʼn aanhanger van koerante, maar het al ʼn paar jaar lank volgehou hy verwag dat meeste koerante op ʼn afwaartse trajek is, buiten ʼn handjievol nasionale koerante soos The New York Times en The Wall Street Journal.

Die ooreenkoms sluit 30 daaglikse koerante in 10 state, 49 weeklikse publikasies met webwerwe asook 32 ander gedrukte produkte in. Ander koerante sluit die Tulsa World in Oklahoma en die Winston-Salem Journal in Noord-Carolina in. As deel van die ooreenkoms sal Lee ʼn 10 jaar huurooreenkoms aangaan vir BH Media se eiendom.

“Dit is ʼn transformatiewe transaksie vir Lee,” het Mary Junck, Lee se voorsitter, gesê. “Dit herfinansier ons langtermyn skuld op aantreklike voorwaardes en bied nuwe inkomstemoontlikhede.”

Buffet, voorsitter en uitvoerende hoof van Berkshire, het gesê hy en sy vennoot, Charlie Munger, bewonder Lee al lank. “Ons wou nie die groep aan enigiemand anders verkoop nie. Ons glo Lee is die beste geposisioneer om die bedryf se uitdagings te deurstaan,” het Buffet bygevoeg.

Koerante is ʼn klein deel van Berkshire Hathaway, wat ʼn verskeidenheid van meer as 90 maatskappye besit en groot beleggings besit in maatskappye soos Coca-Cola Co., Apple en Wells Fargo.

Berkshire Hathaway bied ongeveer $576 miljoen in langtermyn, 9% finansiering aan Lee, wat dit sal gebruik om vir die Berkshire-eiendomme te betaal en Lee se nagenoeg $400 miljoen in bestaande skuld te herfinansier.

Lee se portefeulje sal met 81 daaglikse koerante byna sy lesersgetal verdubbel, het die maatskappy gesê. Die ooreenkoms sal na verwagting teen die middel van Maart afgehandel wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae