Watertekort los buurlande sonder krag

Die Karibadam. (Foto: Marcus Wishart, World Bank)

ʼn Kragkrisis dreig in Zambië en Zimbabwe weens ʼn tekort aan water wat nodig is om hidro-elektrisiteit op te wek.

Weens ʼn voortslepende droogte het die Karibadam, die grootste dam ter wêreld, se damvlakke nou ʼn rekordlaagtepunt bereik, wat ʼn rantsoenering van kragtoevoer aan albei lande tot gevolg het, berig die nuusblad RFI.

Zambië het Donderdag begin om kragonderbrekings van ongeveer ses uur op ʼn slag in te stel. Peter Kapala, die Zambiese minister van energie, het egter aan die departement gesê die onderbrekings sal vir eers net op huishoudings van toepassing wees.

Zimbabwe het egter reeds begin om beurtkrag van 19 uur daagliks in te stel, met krag wat slegs tussen middernag en 05:00 elke dag beskikbaar is.

“Kariba wek ongeveer die helfte van al Zimbabwe se krag op. Daarom het ʼn afname in die opwekking van hidrokrag ʼn onmiddellike uitwerking op ons lewens en ons ekonomie,” het die Zimbabwiese president, Emmerson Mnangagwa, in sy weeklikse nuusbrief in die plaaslike koerant Sunday Mail geskryf. Mnangagwa skryf die verlaging in damvlakke aan klimaatsverandering toe.

Zimbabwe voer ook krag in van Eskom in Suid-Afrika, maar dié sit met uitdagings van sy eie. Die regering hoop nou om ses ou kragopwekkers by Hwange, sy grootste steenkoolkragsentrale, weer in werking te stel.

Kariba se watervlak het die afgelope jare stelselmatig gedaal weens droogtes en min water wat vanaf die Zambezirivier invloei. Volgens die Zambezi River Authority (ZRA) het die vlak van bruikbare water op 15 Desember maar op 1,73% gestaan. Dít teenoor 21,36% verlede jaar.

Die ZRA het gevolglik besluit om alle kragopwekkingsaktiwiteite tot Januarie 2023 te staak. Die besluit sal heroorweeg word ná ʼn deeglike hersiening van die situasie by die kragsentrale.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.