Woods en Timberlake kry wind van voor

(Foto: tsquaredsocial.com)

Tiger Woods en Justin Timberlake se planne vir ʼn sakeonderneming in St. Andrews in Skotland waar geëet, gedrink en gespeel kan word, het die wind van voor gekry.

Die ikoniese gholfster en wêreldbekende musikant wil hul nuwe T-Squared Social Club-konsep in die befaamde universiteitsdorp slegs ʼn hanetree weg van die roemryke St. Andrews-gholfbaan vestig.

Die St. Andrews-baan word as die tuiste van gholf beskou met die spel wat die eerste keer in die vyftiende eeu op die dorp se ou baan gespeel is.

Woods het ʼn spesiale verbintenis met die St. Andrews-baan deurdat hy in 2000 en in 2005 twee van sy drie gesogte Britse Ope-titels op dié Skotse Links-uitleg verower het.

Woods en Timberlake se T-Squared Social Club behels onderdak-terreine waar interaktiewe gholf gespeel kan word, asook ander sportsoorte soos kegelbal en veerpyltjies.

(Foto: tsquaredsocial.com)

Die lokale beskik ook oor talle kroeë en verskillende eetplekke wat tientalle televisies het waarop groot sportgebeurtenisse gevolg kan word.

Die twee Yanks het einde September hul eerste T-Squared Social Club in Manhattan in New York neffens die Grand Central-stasie geopen.

Belangstelling loop hoog en die nuwe onderneming het vlamgevat en Woods en Timberlake se verwagtinge oortref.

(Foto: tsquaredsocial.com)

Ná hul onverwagte sukses in New York het die paar besluit om ʼn tweede T-Squared in St. Andrews te vestig.

Die dorp se fliekteater, New Picture House Cinema, in Northstraat net om die draai van die Royal & Ancient Golf Club se klubhuis, is as die perfekte tuiste geïdentifiseer.

Die 90 jaar oue teatergebou sou omskep en aangepas word om die nuwe onderneming te huisves. Een fliekskerm sal behou word om voortaan wel nog flieks op ʼn groot skerm te kan wys.

Omgekrapte inwoners en studente was egter briesend toe Woods-hulle se planne bekend geword het.

Die president van die St. Andrews Film Society, Ash Johann Curry-Machado, het dadelik ʼn petisie teen die gholfster en musikant se planne van stapel gestuur.

Byna 10 000 mense het binne sewe dae die petisie onderteken wat gekant is teen die planne vir ʼn tweede T-Squared.

“Die beoogde planne is uit voeling met wat die inwoners en studente nodig het en sal die dorp se ryke tradisie en geskiedenis skade berokken. Een fliekskerm is nie genoeg vir die dorp se behoeftes nie,” sê Curry-Machado.

Neil Dobson, ʼn raadslid van die St. Andrews-gemeenskapsforum, sê Woods en Timberlake se planne is onvanpas en betoon nie die nodige respek vir die dorp se tradisie en geskiedenis nie.

“As die teater sluit, sal daar niks oor wees vir die kinders nie.

“Dis ʼn ikoniese gebou en om ʼn Amerikaanse sportkroeg daarin te vestig, is nie gepas nie. Die dorp word reeds oorval deur Amerikaanse toeriste. Wat gaan volgende wees? Trump wat die West Sands koop om ʼn hotel te open?” kla Dobson.

Die West Sands is ʼn gewilde strook grond langs die see net buite die middedorp.

ʼn Plaaslike inwoner, Chris Main, het straks die hardste gekla.

Hy het Woods en Timberlake se planne beskryf as ʼn liefdadigheidsprojek van twee multimiljoenêrs wat historiese landbakens wil laat verdwyn vir eie gewin.

Nog ʼn inwoner, die skrywer Henry Roberts, sê St. Andrews het reeds genoeg kroeë en dronk toeriste.

“Daar is geen nodigheid vir nog ʼn rede om die gemeenskap verder te verdeel nie,” het Roberts oor die T-Squared-planne gesê.

Die Fife-raad vergader aanstaande week en Woods en Timberlake se aansoek vir hul nuwe onderneming sal dan glo voor die raad dien.

Tot dan sal die twee supersterre duim moet vashou dat hulle genoeg volgelinge en steun het om hul Skotse drome te bewaarheid.

Bronne: The Scotsman, golf.com.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.