Woods, McIlroy gedagvaar oor LIV-reeks

Rory McIlroy. Foto: Michael Sherman/ANA

Die twis tussen die Amerikaanse PGA-gholfreeks en die nuwe omstrede LIV-reeks blyk geen einde te hê nie.

In die jongste verwikkeling word die gholfsterre Tiger Woods en Rory McIlroy, asook die VSA se gholfbaas Jay Monahan gedagvaar vir hul betrokkenheid by beweerde pogings om die LIV-reeks te ondermyn.

Die Amerikaanse prokureur Larry Klayman, wat bekendheid verwerf het vir sy beweringe dat oudpresident Barack Obama nie in die VSA gebore is nie, het Woods, McIlroy en Monahan gedagvaar om getuieverklarings af te lê oor verlede week se spelersvergadering in Wilmington in Delaware.

Woods het dié vergadering met 22 ander topspelers belê.

Klayman, wat die LIV-speler Patrick Reed verteenwoordig in ’n hofgeding teen die TV-kanaal Golf Channel oor uitsprake deur een van sy kommentators, beweer dat die vergadering van die spelers die wet op die onderdrukking van monopolieë oortree het.

Klayman glo Woods en McIlroy span saam met Monahan om enige mededinging deur LIV te onderdruk.

Hy wil hê Woods moet op 21 September, McIlroy op 22 September en Monahan op 27 September in Jupiter in Florida getuieverklarings onder eed aflê oor presies wat op die vergadering gesê en bespreek is, asook wat die gholfbaas se persoonlike gesprekke met die twee spelers behels het rakende die LIV-reeks.

Klayman se regsaksie volg op die PGA-reeks se hofaansoek vroeër in die week in Kalifornië om toegang tot die LIV-spelers se kontrakte te kry.

Dié aansoek is deel van die saak waarin die nege LIV-spelers die PGA-reeks dagvaar omdat hulle deur die reeks geskors is nadat hulle hul by die nuwe Saoedi Arabiese gefinansierde reeks aangesluit het.

Die PGA-reeks voer aan dat die LIV-kontrakte groot beperkinge plaas op wat die spelers kan doen en hoe hul vergoeding werklik bepaal en betaal word.

Die PGA-reeks het Woensdag in Atlanta aangekondig dat die reeks se topspelers onderneem het om aanstaande seisoen elk in 20 toernooie te speel.

Dit is vyf toernooie meer as die minimum van 15 waarin hulle volgens die reeks se huidige regulasies moet speel. Die prysgeld vir hierdie toernooie is ook verhoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

George ·

Rory, hoe minder spelers, hoe beter is jou kanse om te wen. Jy wil LIV stop, maar tog jou en Tiger se ding voort sit…nee wat, daars genoeg son.

Treurwilger ·

Die graad van arrogante meerderwaardigheid by die PGA-bestuur en sommige spelers is nogal verstommend.
Verhoogde PGA prysgeld is ‘n bewys dat die nuwe LIV-reeks alreeds goed vir die sport is.

Cibie ·

Dit gaan oor dat die US PGA wil die monopolie hê oor wêreld golf en niks anders nie

Boon ·

En die rykste en mees eksklusiewe sport kla nou omdat sy monopolie bedreig word. Foeitog vir al die miljoenêrs wat nuwe reeks wil onderdruk en mededining beperk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.