Die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) het ʼn dosent ontslaan omdat hy glo nie vorige bewerings van seksuele teistering aan hulle bekendgemaak het nie.
Shirona Patel, Wits se woordvoerder, het aan The New Age gesê hulle het te hore gekom van gerugte van seksuele teistering by die dosent se vorige werksplek. “Sy vorige werkgewer het die gerugte gestaaf. Ons het toe ʼn onderhoud met hom gevoer waarin hy erken het dat hy oneerlik was. Hy is onmiddellik ontslaan,” het Patel gesê.
Na wat berig word, ondersoek die universiteit ook beweringe van drie klagtes van seksuele teistering teen ʼn dramadosent. Alhoewel daar nie ʼn klagte by die polisie aanhangig gemaak is nie, is die dosent Vrydag gekonfronteer en geskors totdat die beweringe ondersoek is. Patel sê die saak behoort teen Junie opgelos te wees.
– Sapa