Sy wil jongste van Afrika word om Sewe Pieke te bereik 

Remy Kloos. Foto: Verskaf

Die 31-jarige Suid-Afrikaner Remy Kloos is sterk op pad om die jongste persoon van Afrika te word om die Sewe Pieke-uitdaging te voltooi.

Sy poog ook vir nog ʼn eerste – om die eerste persoon van Afrika te word om ʼn dubbelpiek te bereik deur die piek van Everest sowel as dié van Lhotse binne 24 uur te bereik. Dié twee is onderskeidelik die hoogste en die vierde hoogste berge in die wêreld.

Die Kapenaar het reeds vier van die sewe berge wat die Sewe Pieke-uitdaging uitmaak, getrotseer, naamlik Kilimanjaro in Tanzanië, Aconcagua in Suid-Amerika, Elbrus in Europa en Denali in Noord-Amerika.

Kloos pak Carstensz Pyramid (Australasië) nou in Oktober. Sy wil poog om die Sewe Pieke-uitdaging in 2020 te voltooi deur Everest in Nepal en Vinson in Antarktika te klim.

Indien Kloos die ander uitdaging, om die pieke van Everest sowel as Lhotse binne 24 uur te bereik, voltooi, sal sy die enigste persoon van Afrika wees wat die uitdaging aangepak het.

Kloos is die afgelope drie jaar ʼn ernstige bergklimmer nadat die soeke na perspektief in haar lewe haar daarheen gelei het. Sy het van 17-jarige ouderdom erg met depressie gesukkel. Sy het einde 2016 besluit om Kilimandjaro te gaan klim.

Kloos op Denali in Noord-Amerika. Foto: Verskaf

“Op 1 Januarie 2017 het ek op die kruin van Kilimandjaro gestaan en ek het ʼn elektriese energiepols deur my hele lyf gevoel. Ek het in daardie oomblik besef dat ek ʼn diep en sielvolle verbintenis met berge en iets soveel groter as ek gehad het.”

Kloos het 10 maande later haar werk bedank, al haar spaargeld gevat en besluit om die wêreld se hoogste berge te klim. Sy klim egter nie net om haarself te vervul nie, maar is toegewyd om terug te gee en het verlede jaar die #JustClimb-inisiatief begin om geld in te samel.

Sy het reeds R500 000 ingesamel wat sy aan die Dlala Nje-stigting geskenk het vir die uitbreiding en opgradering van hulle kindergemeenskapsentrum. Sy het onlangs ook hande gevat met die Sonneblomfonds wat beenmurgskenkers werf.

“Sukses word nie vir my gedefinieer deur elke piek wat ek bereik nie, maar eerder die vermoë om terug te gee aan die samelewing en positiewe verandering teweeg te bring.”

Vir meer inligting om Kloos te ondersteun of haar vordering te volg, besoek www.remykloos.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Dr Phil ·

Inderdaad, teen veel meer as ‘n miljoen rand per poging op Everest… Dan lyk die bietjie geld wat sy vir instansies “insamel” na pure bysaak.

JK ·

en oor 2 jaar “eerste brunette van Suider Afrika”. Eerste is eerste. Na dit is jy nie die eerste nie. Belaglik hoe prestasies uitgedink word. Well done, maar jy’s gin eerste nie.

JohanR ·

Geluk Remy Kloos, en sterkte voorentoe. As ou Jacob Zuma net die Sewe Pieke gaan klim het voordat hy President geword het, sou die hele SA nie nou aan depressie ly nie! O nee, daar lag ek al weer vir myself!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.