Maroela Media bied vanjaar die tweede jaarlikse Draadloos Gemeenskapsradiostasieseminaar aan. Met dié tweedag-seminaar wil Maroela Media aan die bestuur en personeel van gemeenskapsradiostasies die geleentheid bied om met mekaar, asook met bekendes uit die radio- en vermaaklikheidsbedryf, skouers te skuur. Lede van die publiek word ook vanjaar genooi om die seminaar by te woon.
Vanjaar se seminaar vind op 13 en 14 November plaas en word gelyktydig in twee sentra aangebied: Centurion en Stellenbosch. Topgehalte tegnologie word ingespan om die twee seminaarsentra met mekaar te verbind, sodat seminaargangers by beide sentrums mekaar kan sien en met mekaar en die sprekers interaksie kan hê. Die privaat hoër onderwysinstansie Akademia se tegnologie word vir dié doel ingespan.
Bekendes soos Leon van Nierop, Magda van Biljon en Niekie van den Berg gaan die sessies hanteer. Onderwerpe sluit in die skryf en vervaardig van radiodramas, wenke vir geselsradio, sosiale media en die bemarking van jou stasie, en radioprogramme vir kinders.
Die kostes vir seminaar is as volg:
- Gemeenskapsradiostasies: Die eerste persoon se bywoning is gratis, daarna beloop dit R250 per persoon
- Akademiese instellings: R 250 per persoon
- Ander instellings of privaat: R700 per persoon
Die kostes sluit middagetes, versnaperings en ʼn geskenkpakkie in.
Vir meer inligting rondom die seminaar kontak gerus vir Annelize Brits.