Nuwe seisoen breek aan vir Radio Tygerberg

Francois Boyce, Charl Havenga, Neville D en Benescke Janse van Rensburg sal voortaan die oggendprogram aanbied. (Foto: verskaf)

ʼn Seisoen van verandering en vernuwing het vir die Kaapse gemeenskapsradiostasie Radio Tygerberg 104FM aangebreek.

Terwyl die meeste van die stasie se bekende en geliefde omroepers steeds agter die uitsaaimikrofoon sal inskuif, gaan dit voortaan in verskillende tydgleuwe deur die dag geskied.

“Ons versprei steeds die verlossingsboodskap van Christus, inspireer jou en speel soos altyd die beste musiek wat jou inspireer. Die programme sal net ʼn ligter en meer moderne aanslag hê, maar steeds met dieselfde diepte wat luisteraars van Radio Tygerberg 104 FM ken en koester,” sê Rikus van Rooy, programbestuurder by Radio Tygerberg.

Die stasie het ook in April vanjaar afskeid geneem van een van hul omroepers, Lorrein Katzke, wat ná 26 jaar in die uitsaaiwese uitgetree het.

“Lorrein laat beslis ʼn groot leemte in ons geledere. Haar innemende geaardheid, positiewe uitkyk op die lewe en pragtige geloofstories sal gemis word. Sy het wel ingestem om nog Maandae haar immergewilde kosprogram,104Kook, om 14:00 aan te bied. So ons verloor haar darem nie heeltemal nie,” sê Hardus Zevenster, groep uitvoerende hoof van Bloudruk, wat onder andere Radio Tygerberg besit.

Reinhardt Kotze sal voortaan die middagprogram aanbied.

Programveranderinge sal vanaf vandag (6 Mei) in werking tree.

Hier volg Radio Tygerberg se nuwe programme:

06:00-09:00: Die Real Brêkfis met Neville D, Benescke, Francois en Charl

Die program is propvol energie om jou dag op die regte noot af te skop. Benescke Janse van Rensburg en Charl Havenga is reeds ou bekendes en gaan saam met Neville D en Francois Boyce vir opwindende oggende op Tygerberg 104FM sorg.

Neville D is bekend as sanger en liedjieskrywer. Hy is ook al vir ʼn Grammy-toekenning benoem. Francois Boyce sal vanaf verskeie plekke by die program inskakel. Hy is ook beter bekend as die aanbieder van die “Hoezit Samelewing”-video’s wat daagliks op sosiale media gedeel word.

09:00-12:00: Lééf met Liomee

Liomee Vosloo is self ʼn ouer en fokus op familiesake, gesondheid en inspirasie vir ʼn oorvloedige lewe in haar oggendprogram.

12:00-15:00: Lunch met Reinhard Kotze

Hierdie beloof om ʼn blaaskans in die middel van jou dag te wees, propvol pittigheid en prettige speletjies. Fliekvlooie sal ook kan inskakel vir resensies in hierdie middagprogram.

15:00-18:00: Die Lift Klub met Mike Potgieter en Rouchelle Liedeman

Hierdie gedugte span se laatmiddagprogram beloof om ʼn opkikker te wees, met insetsels soos “Air-vent”, “Ko’s gaan huis toe” en “Kar-ioke”. Die pad huis toe was nog nooit so lekker soos in die geselskap van hierdie twee omroepers nie.

  • Om na Radio Tygerberg 104FM se nuwe programme te luister, skakel vanaf 6 Mei in op 104FM, luister aanlyn by co.za of laai die app af wat beskikbaar is in die Google Play- en Apple-winkels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Samuel ·

‘n Ligter aanslag, beteken beslis agteruitgang. Alles sal aanpasbaar gemaak word vir die moderne mens wat nie sonde het nie, maar net foute. Toe Radio Tygerberg ontstaan het, was dit met die uitsluitlike doel om die Evangelie van Jesus Christus te verkondig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.