Luister in 3 minute: Kommentaar op die grondwet­wysiging, begroting

’n Voorgestelde wysiging aan die Grondwet bring die eienaarskap van alle grond in Suid-Afrika in gedrang, nie net landbougrond nie. (Argieffoto: Maroela Media.)

Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, is terug met 3 Minute, 3 Sake waar hy kommentaar lewer op die voorgestelde grondwetwysiging en die nasionale begroting, en verduidelik hoe die koronavirus (Covid-19) die Chinese se sakebedrywighede raak.

Sakeliga het oor die afgelope naweek kommentaar op die voorgestelde wysiging van die Grondwet ingedien. Ingevolge dié wysiging sal konfiskasie van eiendom, oftewel “onteiening” vir “nul vergoeding”, openlik in die Grondwet bekragtig word. Sakeliga meen dat meer as blote proseduriële stappe, soos openbare konsultasieprosesse, nodig is om ʼn geldige wysiging aan die Grondwet aan te bring.

“Dié organisasie verwerp daarom die uitgangspunt van die komitee, wat is dat die Grondwet implisiet konfiskasie van eiendom toelaat.  ʼn Grondwet wat onteiening sonder vergoeding, oftewel konfiskasie, goedkeur, gaan gebreke teen die groter beginsels van konstitusionalisme self. Daarin is respek vir private eiendom grondliggend,” het Van Onselen gesê

Sakeliga meen verder dat so ʼn wysiging Suid-Afrika in dispuut met internasionale reg sal plaas.

Die sakeorganisasie het intussen ook kommentaar op die beoogde Wysigingswetsontwerp op Sport en Ontspanning ingedien. Daar is versoek dat die bykomende impak van ʼn nuwe sportburokrasie heroorweeg moet word, veral gegewe die benarde aard van die regering se finansies.

 In internasionale sakenuus meen Van Onselen wêreldwye kommer neem toe oor Covid-19, want ekonome voorsien tans ʼn aansienlike impak op die globale ekonomie.

In China het aankopebestuurdersindekse, soos Markit s’n, skerp in die eerste kwartaal van 2020 gedaal. Wat daarop dui dat sakebedrywighede in China reeds aansienlik geknou is.

“Maatreëls wat teen die virus ingestel is, belemmer handel. Sommige maatskappye, soos Google, het reeds reisbeperkings vir personeel ingestel. Verder word die versending van sekere produkte uit China tydelik agterweë gehou.

“Suid-Afrika is natuurlik ook afhanklik van handel met China. En aanduidings bestaan dat Suid-Afrika se sakebedrywighede reeds hierdeur geraak word. Nog ʼn uitdaging bo-op bestaande beleidswonde,” het Van Onselen gesê.

 Laastens neem hy die onlangse Februarie-begroting weer onder die loep.

“Wat opvallend in die begroting is dat die regering, ongeag die sukses met besnoeiingsmaatreëls, vir groter skuld begroot het. In die 2019-begroting is ʼn tekort van sowat R250 miljard in 2021 voorsien. Dié syfer spring na meer as R350 miljard in die 2020-begroting.”

Van Onselen meen die sukses van die 2020-begroting rus juis daarop dat die staatsdiens se vergoeding soos beplan, ingeperk word.

“Dit, gegewe die mag van staatsdiensvakbonde, gaan moeiliker gesê as gedaan wees.

“In die beste geval sal die staatskuld nou met R350 miljard per jaar op mediumtermyn toeneem. Dit is baie meer as die 100 tot 200 miljard waarvoor Sakeliga gehoop het. Daarom neem die kans van ʼn uiteindelike fiskale krisis steeds net toe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.