Luister in 3 minute: Sakeliga staan Reserwebankwet se wysigings teen

Die Suid Afrikaanse Reserwebank (Foto: AP)

In vandeesweek se 3 Minute, 3 Sake kyk Gerhard van Onselen, ʼn senior ontleder van Sakeliga, na die voorgestelde wysigings aan die Reserwebankwet en die Wet op Nasionale Padverkeer.

Sakeliga het vandeesweek voorlopige kommentaar ingedien op voorgestelde wysigings aan die Reserwebankwet.

Die wetsontwerp beoog onder meer om die private aandeelhouding in die Reserwebank tot ʼn einde te bring. Kommer bestaan dat dié wetsontwerp op groter verpolitiserings van die Reserwebank sal uitloop. Ander voorstelle is ook in die wetsontwerp vervat.

Die proses vir openbare kommentaar in November was kort. Dit is nie duidelik of volgende rondes van kommentaar of prosesse gaan volg nie – maar dit behoort. Sakeliga het vir ʼn langer kommentaartydperk gevra.

Rande is betrokke by bykans elke plaaslike transaksie, en beleide wat die rand se waarde in gevaar kan stel, moet teengestaan word.

Die regering het egter, prakties gesproke, reeds stewige beheer oor monetêre beleid. Private aandeelhouding is een van die meganismes wat Reserwebank-onafhanklikheid kan ondersteun.

Dit wek kommer wanneer (reeds ingeperkte) seggenskap van private aandeelhouers so onteien kan word.

Sakeliga het kennis gegee dat hy gereed staan om sy gunstige uitspraak in die hoogste hof van appèl teen die voormalige minister van finansies Pravin Gordhan te verdedig.

Dit is nou die saak waarin van die swart ekonomiese bemagtigingsregulasies en voorafdiskwalifikasievereistes by openbare verkryging as onwettig verklaar is.

Sakeliga se reaksie volg op uitlatings van Ace Magashule van die ANC. Magashule het teen die hof se bevindinge en Sakeliga uitgevaar.

“Openbare dienslewering behoort te gaan oor uitkomste vir die publiek, nie oor inkomste vir diensverskaffers nie,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga,

Verder meen Le Roux dat voorafdiskwalifikasievereistes op grond van politieke oorwegings die publiek en eindgebruikers van die waarde-vir-geld wat in die mark beskikbaar is, ontsê.

Sover is geen verdere regsaksie deur partye soos die ANC aangeteken nie.

Laaste gesels ons oor voorgestelde wysigings aan die Wet op Nasionale Padverkeer. Hierdie wetsontwerp wil 0%-bloedalkoholvlakke op motoriste afdwing. Dit is ingevolge ʼn huidige wysigingswetsontwerp.

Die Automobiel-Assosiasie van SA (oftewel die AA) het kommer uitgespreek oor die voorgestelde wysigings.  Luidens Maroela Media meen die AA dat die wysiging nie die probleem (van dronkbestuur) sal oplos nie.

Dit sal egter selfs onskuldige motoriste soos mense wat bloot medisyne of hoesstroop met alkohol in gebruik “sagte teikens” maak vir kwade trou-optrede. Ander oplossings, meen die AA, moet eerder ondersoek word.

Die gevare van dronkbestuur is duidelik, maar die betrokke bepalings is problematies. Diegene wat tot nou binne die perke gebly het, sal ook geraak word. Daarby word koste natuurlik gehef wanneer onredelike of irrasionele wetgewing ingestel word. Toepassing kos belasting en hulpbronne. Sodanige “ongesiene koste” moet ook oorweeg word.

Die publiek het tot môre (20 November) om kommentaar te lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Suzette ·

Nou ja – daar begin dit…. Reserwebank is die volgende wat gaan vou – dan die pensioenfondse …

Lian ·

Nou wat is hulle behep their met nasionalisering ? Nêrens het nasionalisering ooit gewerk nie ? Hoe gaan ons buitenlandse vertroue herwin as die sentrale bank genadig Ali’s eer word ? Is dit net ‘n verdere vergrype na mag ? En laat ons nie VBS bank en die Posspaarbank vergeet nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.