Luister: Pantser jou beursie só die feesseisoen

Hester van der Merwe.

Hester van der Merwe is in November as die Finansiële Beplanningsinstituut (FPI) se finansiële beplanner van die jaar aangewys.

Dié gesogte toekenning word beskou as die hoogste eer wat ʼn finansiële beplanner in Suid-Afrika kan verwerf en word gesien as die toppunt van sukses in hierdie bedryf. Die kandidate moes ʼn streng keuringsproses ondergaan en hul vaardighede en kundigheid ten toon stel deur middel van talle praktiese uitdagings.

Van der Merwe vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media sy het na skool regte studeer aan die Universiteit van Pretoria en het “per ongeluk” as finansiële beplanner begin werk.

“Ek het uiteindelik besef die finansiële bedryf is waar ek hoort. Dit is my plek waar ek tuis voel en waar ek voel ek kan waarde toevoeg. Ek is baie entoesiasties oor finansiële beplanning en die belangrikheid daarvan.”

Volgens Van der Merwe, wat reeds byna twee dekades se ervaring in die finansiële bedryf het, het elke mens ʼn unieke “geldstorie”. Sy wil mense graag help om dit te verstaan sodat hulle beheer van hulle finansies kan neem.

“Omdat elkeen van ons met ʼn ander kleur bril op na geld kyk, bepaal dit hoe jy daaroor gaan voel en wat dit vir jou beteken. ʼn Mens moet ver teruggaan en kyk wat is jou eerste sinvolle herinnering van geld en wat is jou blindekolle. Dit sal ʼn invloed hê op hoe jy geld hanteer en daarop reageer en dan verander ʼn mens dit in ʼn storie sodat jy as ʼn derde persoon van buite af binnetoe kan kyk. Dit maak dit makliker, omdat dit soms ʼn baie moeilike onderwerp is om oor te praat.”

In die lig van die moeilike finansiële jaar wat die meeste mense vanjaar beleef het sowel as die komende feesseisoen, het Van der Merwe ʼn rits praktiese wenke saamgestel om jou te help om jou rande te rek:

  • Bestuur jou verwagtinge. Hierdie jaar was ʼn buitengewone jaar waarin baie mense verliese gely het en mense kry swaar. Die sleutel is kommunikasie: Praat daaroor en besluit saam om af te skaal as dit nodig is.
  • Moenie die uitdagings van die jaar probeer besweer deur jouself in Desember te veel te bederf nie. Dit kan soos ʼn pleister op ʼn wond wees wat nie mooi skoongemaak is nie: As daardie pleister hier teen Januarie afgetrek word, kan die prentjie aardig wees en as ʼn mens te rojaal feesvier, bly daai klein stemmetjie tog maar in jou agterkop praat en plaas ʼn demper op jou genot.
  • As jy ʼn bonus kry aan die einde van die jaar, gebruik dit oordeelkundig. Moenie die geld in jou kop in sy eie boksie plaas en dit anders hanteer net omdat dit ʼn ander bron het nie. Jy moet steeds die gesonde beplanningsbeginsels toepas op daardie geld.
  • Kersgeskenke bly ʼn tameletjie. Besluit as gesin of julle kans sien om die name in ʼn hoed te gooi en sodoende net vir een persoon iets te koop. Besluit ook op ʼn bedrag en sluit sommer saam met jou naam ʼn paar voorstelle in sodat jy seker is daar word nie geld gemors nie.
  • Dink nou al aan terug skool toe in Januarie sodat jy nie ná die Desember-vakansie in ʼn verknorsing beland as daar dan skielik ʼn klomp skoolbehoeftes aangeskaf moet word nie. Wees prakties. Dit is baie keer goedkoper om in grootmaat te koop, maar ʼn mens wil nie noodwendig 12 gomstafies in jou laai bêre nie. Tref ʼn reëling met van die ander ouers en ruil uit. Hierdie wenk geld sommer ook vir ander items, nie net skoolvoorraad nie. Moet ook nie die skool se klerebank vlak kyk nie. Kinders groei so vinnig dat daar baie keer amper splinternuwe klere vir ʼn fraksie van die prys van nuwes by die klerebank beskikbaar is.
  • Wees prakties as jy onthaal. ʼn Luilekker laatontbyt is beslis ligter op die sak as ʼn driegangaandete en die kuier is net so lekker. Onthou, dit gaan oor tyd saam met jou geliefdes, nie die hoeveelheid geld wat jy bestee nie.
  • Gebruik die rustiger tyd om jou “geldstorie” te leer ken. Dit kan jou lewe verander.
  • Wees doelgerig. Dit help nie om bloot te dink dit sal so lekker wees as jou boeke hierdie Desember klop nie. Maak daadwerklik seker dit gebeur. Stel ʼn spesiale vakansiebegroting op en wees realisties terwyl jy dit doen – ten opsigte van wat jy alles wil doen en koop én wat jy kan bekostig. Kyk daagliks daarna en sorg dat jy daarby hou. Dit is ʼn goeie plan om iemand daarvan te vertel en te vra om jou te help deur jou aanspreeklik te hou. ʼn Mens hou makliker by jou besluite as jy dit reeds aan ander vertel het.
  • Bly uit die winkels! Onthou die mense wat die winkelvensters versier is spesialiste. Hulle weet presies hoe om te werk te gaan om alles so aanloklik as moontlik te laat lyk.
  • As jy een keer van die wa af val en iets onnodig koop, moenie moed opgee nie. Desember word nie in een dag gewen of verloor nie, maar in die gewone loop van sake is dit meestal moontlik om die begroting aan te pas. Leer daaruit en sit maatreëls in plek om te keer dat dit weer gebeur.

Om Van der Merwe te kontak vir finansiële raad, skakel 012 348 1386.

  • Luister na die volledige onderhoud bo-aan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.