Luister: Wat verklap jou gesig oor jou?

Dr. Lizelle Grobler. (Foto: verskaf)

ʼn Wipneus, ʼn skewe lip en klein ore. Dit mag dalk soos blote beskrywings van ʼn gesig klink, maar vir dr. Lizelle Grobler verberg dié gelaatstrekke duisend geheime.

Persoonlikheidsontleding kan vir verskeie redes gebruik word. Sakeondernemings kan dit gebruik in onderhoude om te verseker dat die regte kandidate aangestel word, dat werknemers mekaar beter verstaan en selfs om mense wat ʼn misdaad gepleeg het, vas te trek.

Grobler, ʼn forensiese analis, verduidelik dat daar verskeie maniere is om persoonlikhede te ontleed, wat onder meer handskrif- en gesigsontleding insluit. Elke tegniek is op sy eie sowat 80% akkuraat, sê sy, maar wanneer dit saam toegepas word, verhoog die akkuraatheidsvlakke tot sowat 98%.

“ʼn Gesig is die prentjie wat ons eerste sien. Dit is die eerste konneksie wat jy met iemand het,” vertel Grobler in Maroela Media se ateljee.

Wanneer sy gesigsontleding doen, kyk sy oudergewoonte eers na ʼn persoon se neus, ooghare, lippe en hoe hoog of laag hul ore langs hul koppe sit. Elkeen van dié gelaatstrekke verklap ʼn geheim oor die persoon se geaardheid, bestuurstyl, persoonlikheid en gewoontes.

Hoewel gesigsontleding Grobler na aan die hart lê, sê sy dat dit maar ʼn kwart van haar werk in geheel is. Sy gebruik ʼn verskeidenheid van ontledingstegnieke om misdadigers vas te trek en groot sakeondernemings toe te rus met gesigsontledinggereedskap.

“Jou gesig verklap absoluut alles van jou. Jy kan nie ʼn masker aansit nie; ons hou mos maar van ons maskertjies, maar dit alles verdwyn vinnig. Daar is niks wat jy kan wegsteek oor jou geaardheid wat ʼn gesigsontleder nie gaan raaksien nie.”

  • Luister boaan na ʼn volledige klankonderhoud met dr. Lizelle Grobler oor persoonlikheidsontleding.
  • Vir meer inligting oor dr. Lizelle Grobler, haar sakeonderneming en die dienste wat sy lewer, besoek hierdie webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Petrus Klipkop ·

Lyne en plooitjies, mikro-uitdrukkings, asemhaling en dies meer kan baie verklap. Ek byt egter bitter swaar dat morfologie en fenotipe (hoe gene hulleself uitdruk) ‘n mens se karakter bepaal. Dis geen feit nie, slegs my beskeie opinie want ek weet nie genoeg van die onderwerp nie, maar my logika sê dat, net soos velkleur, bepaal hoe dik jou lippe is of waar jou ore sit nie noodwendig jou bekwaamheid vir ‘n taak of pos of wie jy is as mens nie.

Kiepie ·

My gesig verklap gewoonlik presies wat ek dink van die stelling wat die persoon voor my nou net gemaak het! :-)

Cherokee ·

Volg dit maar op met die stelling wat die persoon nà jou, nou net gemaak het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.