Podlitiek: Bewyse, bewerings en taalbeserings

Opgestel deur die Podlitiek-span

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom. (Foto: RODGER BOSCH / AFP)

In ʼn besige nuusweek lek die Podlitiek-span omtrent lippe af om dié week weg te spring en te begin ontnonsens aan al die lekker stories wat tans op die radar is. Vandeesweek word die ondersoek na Eskom-hoof André de Ruyter se beweerde rassisme bespreek, prins Harry en sy vrou, Meghan, se skokonthullings kom onder die loep en laastens kom die taalwoelinge in koshuise in Stellenbosch aan die beurt.

André de Ruyter, Eskom se hoof sedert einde 2019, is onlangs van rassisme beskuldig nadat hy na bewering kontrakte van swart diensverskaffers opgeskort het. Wat natuurlik belangriker is as die ondersoek na sy optrede, is die moontlikheid dat hy tans ʼn pion in die groter faksiestryd binne die ANC is, en Hermann lig hierdie punt toe. Behoort enigiemand wel verbaas te wees dat ʼn wit bestuurder van rassisme beskuldig word in 2021-Suid-Afrika? Dit is dan seker maar te verwagte, nie waar nie? André het dit sekerlik sien kom, of hoe?

Daarna bespreek die Podlitiek-span die onderhoud van Harry en Meghan wat deur Oprah Winfrey gevoer is en die afgelope paar dae versprei is. Hoewel sy belangstelling in die koningshuis se doen en late weglaatbaar klein is, wonder die Podlitiek-span of slagofferwese nie ʼn te belangrike deug geword het in die huidige gesprekke oor gemeenskappe se wisselwerking met mekaar nie. Terwyl die gerugte van depressie ernstig opgeneem moet word, skuil daar meer agter die storie as net dít.

Laastens dan die taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch. Daar is onlangs deur HK-lede van ʼn koshuis aangevoer dat studente selfs in die gange net Engels met mekaar mag praat, wat natuurlik verregaande is, maar wat tog aandui dat studenteleiers neffens die Stellenberge nie werklik verstaan hoe om met taal op hul kampus om te gaan nie. Die Podlitiek-span loer na hierdie tema, en die groter taaldebat.

Al hierdie stories en meer in vandeesweek se Podlitiek.

Podlitiek lewer nie die nuus nie, hy maak dit. Luister Podlitiek.

  • Die Podlitiek-span bestaan uit Hermann Pretorius (IRV), Ernst van Zyl (AfriForum), Paul Maritz (Solidariteit) en Daniël Eloff (Hurter Spies Ing.).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Podsendings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.