Podlitiek-onderhoude: Basson van Klipkouers praat oor entrepreneurskap en Afrikaner-identiteit

Jacques-Basson-Saskia-Beresford-Photography

Jacques Basson is die aanbieder van Klipkouers. Foto: Saskia Beresford Fotografie.

Opgestel deur die Podlitiek-span

Jacques Basson is een van die Afrikaanse podsending-baanbrekers en aanbieder van die bekende podsending “Klipkouers”. Klipkouers is gestig om entrepreneurs te help om hul aspirasies te realiseer ten einde waarde tot hulle ondernemings toe te voeg.

Tydens die episode bespreek Podlitiek se aanbieders, Daniël Eloff, Daniel du Plessis en Paul Maritz, en Basson entrepreneurskap, alternatiewe media en Afrikaner-identiteit.

Om die episode mee af te skop gee Basson ʼn bietjie agtergrond oor sy podsending Klipkouers en wat dit beoog om te bereik en te beteken. Klipkouers ʼn sprekende voorbeeld van hoe ʼn nis-program uitermate suksesvol kan wees. Basson deel ook sy wenke oor hoe alternatiewe media en die nuwe moontlikhede wat dit vir sake ontsluit. Tradisionele bemarkingsmetodes soos radio-advertensies is nie so persoonlik en doeltreffend soos byvoorbeeld reklame deur podsendings nie. Hierdie rigting lei tot ʼn nuwe mark met ongelooflike potensiaal vir groei en ontwikkeling.

Radio- en televisiestasies het tradisioneel enorme hoeveelhede mense wat bereik word maar die gehalte van daardie interaksie is nie altyd se hoog of goed nie. In plaas daarvan dat 300 000 luisteraars bereik word, maar dalk nie oplettend die reklame in neem nie, bied podsendings byvoorbeeld die geleentheid om met ʼn kleiner groep luisteraars in verbinding te tree, maar daardie groep van luisteraars neem die hele advertensie in. Weens die persoonlike aard van podsendings vertrou die luisteraars hierdie reklame meer.

Die gesprek draai dan ook na die rol van entrepreneurs in Suid-Afrika en hoe jong Suid-Afrikaners ʼn toekoms kan hê deur innoverend te dink en buite die boks geleenthede aan te gryp. Basson beklemtoon hoe entrepreneurskap nie noodwendig in die lesinglokale van tradisionele universiteite geleer word nie, maar dat dit veel meer verg as bloot net ʼn graad behaal.

Die Podlitiek-span bespreek ook Afrikaner-identiteit in ons tyd, veral hoe jong Suid-Afrikaners die land beskou gegewe die ekonomiese en politieke uitdagings wat ons in die gesig staar. Jong Afrikaners is in die proses besig om hul plek in ons land te bepaal. Basson deel sy liefde vir byvoorbeeld die Voortrekkermonument en hoe die verantwoordelikheid by ouers berus om hul kinders bewus te hou van Afrikaanse geskiedenis.

Die episode sluit af met ʼn bietjie raad deur Basson vir enige jong entrepreneurs en spesifiek hoe hulle sosiale media moet gebruik en die gevare waarna opgelet moet word wanneer jy jou sakeonderneming op byvoorbeeld Facebook bemark.

  • Is jy onseker oor ons land se toekoms? Voel jy dalk oningelig oor politieke kwessies wat aan die orde van die dag is? Dan is Podlitiek die ideale instrument om jou opinie mee te slyp! Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.