ToekomsVenster: Hoor jy jouself?

Foto: Jordan Cormack/Unsplash

Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord. – Kol. 4:66

Ek was onlangs besig met opnames wat verband hou met gebed. Vyftig oordenkings wat op CD by ToekomsVenster beskikbaar is. Dis ʼn heerlike reis en ek vertrou dat dit vir mense iets sal beteken. Dit val saam met die nuwe ToekomsVenster se Stiltetydgids wat eweneens oor gebed handel. Uiteraard is gebed onontbeerlik vir ʼn dinamiese en vervullende geloofsreis. Wat sou ons darem gedoen het as ons nie met die Vader, Seun en Heilige Gees kon gesels nie?

Dis in die terugluister van die materiaal wat ek opgeneem het dat ek skielik bewus word van ʼn paar irritasies in my aanbieding. Uiteraard is dit nie op skrif duidelik nie want jy kies jou woorde en probeer ekonomies werk. Jy hoor ook nie stemtoon en emosie in die geskrewe teks nie. Dis ʼn leeservaring. Gemaklik praat (soos my styl is) op CD is egter ʼn ander saak. Dit gebeur vinnig en die ateljee se tyd is duur. So jy praat jou praat en luister later terug. Dan begin die netjies maak van die oudio en dit kan ʼn rukkie neem.

Terug na die irritasies. Woorde, frases, intonasie, stemtoon wat gereeld voorkom. Gelukkig gebruik ek nie die irriterende “ja” wat baie sprekers gebruik nie, maar ek het my eie gunstelinge.

Ek het dit nog nooit gehoor nie en ek neem al jare op. Dalk het dit nou eers gebeur?

Feit van die saak dit is baie irriterend omdat my aandag nou daarop gevestig is. Dit staan soos seer tone uit. Dit gaan waarskynlik en hopelik niemand anders pla nie, maar ek kan daarvan naar word!

Dit het my net laat dink. Luister ons ooit na onsself en die goed wat ons kwytraak?

Die Bybel sê ons woorde moet met sout besprinkel wees. Dalk moet ons ander vir ʼn slag vra hoe ons oorkom? Dit is waarna hulle die heeldag moet luister.

Verkleinerend, hoogdrawend, beterweterig, eiesinnig, arrogant, vernederend, doodgewoon irriterend? Maak jy ander se sinne vir hulle klaar? Onderbreek jy ander voortdurend? Of is jy simpatiek, begrypend, opreg nederig, geduldig en nederig?

Sjoe, ʼn mens hou nooit op leer nie. Lekker luister na jouself.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.