ʼn Kerriepastaslaai is darem net die ideale bykos saam met braaivleis. Beproef die naweek dié een.
Lewer 6-8 porsies
Bestanddele
- 400 g fusilli- of skroefpasta
- 1 e (15 ml) Clover Springbok-botter
- 1 ui, gekap
- 1 knoffelhuisie, gekneus
- 2 t (10 ml) fyngerasperde vars gemmer
- 2 t (10 ml) matige kerriepasta
- 2 e (30 ml) vrugteblatjang
- ¼ k (60 ml) Clover Krush- tropiese vrugtesap
- ¾ k (180 ml) mayonnaise van goeie gehalte
- 1 k (250 ml) Clover-suurroom
- ½ x 410 g-blikkie appelkooshalwes, gesny; of 1 mango, afgeskil en gekap
- ¼ k (60 ml) sultanas
- 1 rooi soetrissie, ontpit en gesny
- 1 selderystingel, gesny
- 2 e (30 ml) geskeurde vars koljanderblare
Metode
- Maak die pasta gaar volgens die verpakking se aanwysings. Dreineer en hou eenkant.
- Smelt die botter in ʼn pan en braai die uie liggies vir 3-4 minute. Voeg die knoffel en gemmer by en kook vir 2 minute. Roer die kerriepasta deur en kook vir 1 minuut.
- Skep die mengsel in ʼn groot mengbak en roer die blatjang, vrugtesap, mayonnaise en suurroom deur.
- Vou die warm, gedreineerde pasta by die sous in en geur met sout en peper. Roer die oorblywende bestanddele by (hou ʼn bietjie van elke bestanddeel eenkant vir garnering).
- Rangskik in ʼn opdienbak en garneer met die oorblywende bestanddele.
Bron: Gunsteling Braairesepte
Uitgewer: Lapa