Soorte resepte:

Kolganslekkerte

screen-shot-2017-01-04-at-10-18-21-am

Iemand vra nou die dag wanneer skryf ek weer ʼn kosstorie. Ek kan myself nou nie uitgee vir ʼn koskenner of -maker nie, maar ek weet waneer is ʼn ding vir my lekker en ek maak graag kos met wat ek het. Kosgoeters op TV staan my nie aan nie en ek steur my min aan wat in tydskrifte aangebied word. So hier en daar hoor ʼn mens iets interessants, maar as dit by kosmaak kom, dink ek aan oorle’ Ma en my ousus se manier van kosmaak – so sonder fieterjasies en altyd vinger-aflek-lekker.

Nou die dag vertel vriend Johnny vir my hoe ʼn groot trop wildemakoue uit die bloute op ʼn groot lap groen koring toegesak het en die belowende oes tot in die grond in afgevreet het. Ander vertel weer van skades wat kransduiwe, tarentale en ander geveerdes aanrig, as hulle in hul hordes op gesaaides en veevoer in houers toesak. Dit noop hulle om die getalle wat skade berokken, in toom te hou.

So vertel my een buurman vir my dat hy nou maar sy haelgeweer die praatwerk laat doen, voordat die kolganse hom bankrot vreet. Ek vra toe vir hom of hy nie bang is vir die natuurbewaarders en aktiviste nie. Hy het net so ʼn snork gegee en toe gesê die (selfstandige naamwoord wat met swaarweer te doen het) kan maar kom en dan kan hulle ook sommer skadevergoeding en sy koőperasierekening betaal.

Soos ek nou maar is, vra ek toe vir hom of hy nie vorentoe ʼn kolgans na my kant toe wou laat val nie. Net die volgende dag het hy laat weet dat ek maar my kolgans kon kom haal. Net een haelkorrel het hom laat val en daar was nie eintlik vleisskade nie. Ore in die nek het ek die vleismeevaller gaan haal. Hy het nog raad gegee dat ʼn mens sommer die vel, vere en al, moet aftrek voor jy verder slag, maar dit het op dowe ore geval. Die vel is mos al te lekker!

Die destydse stryd in Engeland om die watervoëls te ontveer, was vergete. Ek het vergeet die Skepper het ʼn watervoël so gemaak dat water nie maklik die vel moet bereik nie. Soos ʼn mens nou maar maak, het ek die ketel kookwater oor die kolgans leeggemaak terwyl ek hom so gedraai het dat die hele lyf benat kon word. Toe die veretrekkery begin, het alles belowend maklik gelyk, maar toe kom ek agter dat daar onder die bolaag vere ʼn digte donslaag was. Hierdie donskombers is omtrent donsie vir donsie tussen duim en wysvinger uitgepluk. Stadig, geduldig en pynlik as die vingers begin kramp het. Die stert- en vlerkvere is met ʼn tangetjie uitgetrek, want ek wou nie verder met kookwater lol nie.

Daar lê die ontveerde kolgans toe voor my, gereed om verder verwerk te word. Dit het maklik gegaan, want die buik- en borskas was so groot dat ek my ou knewelhand maklik kon inkry om die binnegoed uit te kry. Die geslagte kolgans, vel en al, is mooi skoon afgespoel en toe hy daar, borskant bo, op die snybord lê, toe prys ek my eie stert en seg ek: “Kyk, eendvoël slag, kan jy slag!” Nie ʼn veertjie, donsie of bloederigheid nie en die die vel is onbeskadig. Toe’t ek hom maar vir die wis en die onwis vir ʼn paar ure in asynwater laat lê om, soos destyds met die ystervark, die “willigheid yt hom yt te kry”, soos ou dronk Jan my aangeraai het.

Dit was ʼn ordentlike slagding met baie vleis. ʼn Nek-, vlerk- en stuitjieliefhebber se droom, om nie eens van ʼn borsliefhebber te praat nie! ʼn Lang karkas met ʼn laaang nek en vlerke wat so vat-vat aan 30cm elk. Ek het geweet dit sal vernuf kos om die spulletjie in my ovaal ysterpot in te kry.

Dit was tyd om die slagding reg te kry vir die oond. Daar was nie ʼn resep nie en soos altyd het ek sommer so uit my kop uit begin werk. Ek het eers ʼn lagie olie oor die hele gevoëlte gesmeer en toe met sout en growwe swartpeper liggies ingevryf. Toe  was hy reg om in die ysterpot ingepas te word.

Met ʼn watertjie en ʼn paar tjirtse Worcestersous onder in die ysterpot, het ek die kolgans in die pot ingepas. Ok maar net-net. Pragtig uitgelê en reg vir die finale voorbereiding. Met ʼn mengsel van Vroulief se appelkoosblatjang, vars suurlemoensap en soet rissiesous het ek die gans mildelik bedrup en toe liggies oor die hele oppervlak ingevryf. Toe’t ek die gans, tot in elke vou en holtetjie, met braai-meghêftertjies besprinkel. Die lekkerte van meghêftertjies is dat jy nie ʼn gebottelde mengsel gebruik nie. Elke lekkerteliefhebber het mos sy eie resep.

Nou was dit tyd vir die finale afronding voordat die deksel opgesit word. As ek vars varkspek gehad het, sou ek seker die borsgedeelte met dun velletjies spek bedek het om ʼn moontlike droogheid te voorkom. By gebrek aan salotte, het ek uie en vars knoffel in dun skyfies gesny en op die gans gepak. Vir ʼn groenigheidjie, is fyngekapte preie toe oor die hele oppervlak gestrooi. Die finale afronding was so ʼn effense lagie dik wit uiesoppoeier en liewe Ina se groenuiesout.

Die gaarmaak in die oond het gou belofte getoon en die geur wat rondgehang het, het vertel van ʼn groot lekkerte wat aan die kom was. Dit was ook so, want ʼn paar ure later, toe die deksel gelig word, het die lekkerte, jy kan maar sê, uitlokkend gelê en wag om geproe te word. Hier en daar ʼn proeseltjie en elke proeseltjie het gesmaak, nee, gesmeek na meer.

Toe my getroue en bekwame ou Helpertjie die kolgans uit die ysterpot lig en op die snyplank neersit, was dit mooi om na te kyk: Die gaar kolgans op die bord en so ʼn ryk 30mm diep sous in die pot. Ek het die lekkerte so staan en bekyk en toe vir my Helpertjie gesê: “Jong, hier’s vleis vir minstens drie dae en drie nagte se eet en genoeg sous vir baie growwe brood met plaasbotter. So was dit ook.

Ek het die lekkerny in porsies gesny – eintlik in porse want soos by enige eendvoël was dit net die boudjies en dytjies wat porsies was. Die twee borsstukke was so groot soos twee 500g biefstukke en die superlange nek, vlerke en stuitjie was met lekkerte gelaai. Daar was nie twyfel oor wat vir ons gewag het as ons by onse eetplekkie sou gaan aansit nie.

In die tuin was aartappels en patats wat gewag het om uitgehaal en groenbone om afgepluk te word. So gemaak en my ou Tuisteskeppertjie het gesorg vir brosgebakte aartappel, soetpatat en groenbone met aartappel en uie gekook. Kyk, kook kan sy kook!

Die kolganslekkerte het gesorg vir dae se genot en eetvreugde. Om lekker te eet, bly maar een van die grootste vreugdes, maar vir my tog nie ʼn groot wit bord met ʼn paar blertsies, spatsels, strepies, groen of pers blaartjies en stingels nie. Nee, ʼn bord kos soos my ouma, my ma of my ousus dit sou voorsit. So was ons kolgansetes – ʼn bord belaai met voedsame heilsaamheid!

En vir my jong buurman, Jan-Cor, het ek gesê dat as hy weer sy oesbelange moet beskerm, hy maar ʼn kolgans na my kant toe kan laat val. Ek sal weet wat om met hom te maak en ek wens jy kon saam kom eet! Wie weet? Dalk!

Net soos ʼn pannekoek met die beste resep nog steeds kan flop, kan Maroela nie pa (of ma!) staan vir enige van die resepte wat jy self by die huis probeer nie. Elke koppie meel, bakpoeier, melk, eier of enige ander bestanddeel is dus in jou eie hande en Maroela Media kan nie enige verantwoordelikheid aanvaar vir komplimente (of klagtes) oor jou kookvernuf nie. -Red

Deel van: Koolstoof, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

PJ ·

Man ek wens ek was by. Hy smaak so lekker want hy lyk so lekker!!!!!!!!!!!!

John ·

En boere se hulle is so lief vir die natuur. Hulle sal pofadders versigtig optel en iewers gaan los in die hoop dit sal binnekort weer kom groet maar wag net totdat iets met vere opdaag of lyk of dit vier bene het dan is die pot hoeka op die stoof en die sanna teen die skouer. Eet broers een van die dae is daar net slange oor in jul buurt…

Koos ·

Ag nee John! Weet jy iets van kolganse en boerdery. Word wakker man

Aubrey ·

Ai hoe honger word ek nou. Dit het my nou aangespoor om vandag n lekker hoender potjie vir vroulief en familie te maak. Met lekker warm brood daarny en tuisgemaakte blatjang.

Francie ·

In ons gesin noem ons hulle nie ‘Kolganse’ nie, maar ‘Pasteie’.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.