Die 30ste jaarlikse Wêreldkaastoekenningsgeleentheid het van 16-19 November by die Taste-fees in Londen plaasgevind. Vanjaar het inskrywings uit 35 lande ingestroom, wat ’n rekordtal inskrywings vir dié toekennings is.
Ná meer as 3 000 kase op een dag in Londen geproe, geruik en beoordeel is, is Dalewood Huguenot, ʼn semiharde kaas van Dalewood Fromage buite Stellenbosch, aangewys as die beste Suid-Afrikaanse kaas.
Die Dalewood Fromage Huguenot-kaas het ook onder die topdrie kase ter wêreld geëindig.
Cornish Kern, wat in die Alpynse styl deur die Britse Lynher Dairies Cheese Company gemaak word, is as Wêreldkaaskampioen vir 2017 aangewys.
“Die beoordelaars het die internasionale kollig behoorlik op die kundigheid en harde werk van Suid-Afrikaanse kaasmakers laat skyn deur die volgende toekennings te gee: een supergoud, twee goud, vier silwer en vier brons,” het Dalewood Fromage in ʼn mediaverklaring gesê.
Kase van onder meer Colombië, Suid-Afrika, Australië, Oostenryk, België, Swede, Switserland, Turkye en Bosnië-Herzegowina is per vragmotor, trein, vliegtuig en boot by 12 afleweringspunte oor die hele wêreld afgelewer, waarna dit na Londen vervoer is.
Die beoordelaarspaneel het bestaan uit 230 beoordelaars van oor die wêreld. Ander Suid-Afrikaanse vervaardigers wat bekroon is by dié kompetisie, sluit in: goud vir Kilembe van Belnori Boutique Cheesery; silwer vir Klein River Matured Gruberg van Klein River Cheese; en brons vir Karoo Crumble van Langbaken Cheese.
Dankie, dis ook goeie nuus sal nie omgee vir ‘n proe mandjie nie( ‘n groot een) en ‘n glasie of twee Kaapse wyn op die strand
O hoe bly is ek vir goeie nuus! Ons het dit so nodig. Baie geluk aan al die kaasmakers. Suid-Afrikaanse boere en kaasmakers bly maar tops. Dankie vir elke stukkie kos en kaas en melk wat ons in ons monde sit.
En daar gee julle my ‘n plan! Ek gaan vir my seun, die kaasmuis van die huis, kaas gee vir Kersfees.
Baie geluk! Gaan beslis Dalewood kaas probeer.