Soorte resepte:

[Resep] Ongebakte grond­boontjie­blokkies

Ongebakte grondboontjieblokkies. Foto: Lekker en Vinnig

Hierdie resep is perfek vir die langnaweek – so ietsie soets gaan mos goed saam met kuier en rus!

Lewer 24 porsies

Bestanddele:

Kors

  • 200 g (1 pakkie) Tennisbeskuitjies
  • knippie fyn kaneel
  • 90 g botter, gesmelt

Vulsel

  • 250 g botter
  • 250 ml growwe grondboontjiebotter
  • 625 ml versiersuiker, gesif
  • 625 ml Rice Krispies

Bolaag

  • 200 g witsjokolade
  • 45 ml gladde grondboontjiebotter

Metode:

  1. Voer ʼn bak van 30 cm x 20 cm met bakpapier uit.
  2. Kors: Maak die koekies fyn en voeg die kaneel en botter by. Druk dit op die bodem van die bak vas.
  3. Vulsel: Smelt die botter in ʼn kastrol en roer die grondboontjiebotter by tot gesmelt. Verwyder dit van die hitte.
  4. Voeg die versiersuiker by die grondboontjiebottermengsel en meng dit goed.
  5. Roer die Rice Krispies by en meng weer goed.
  6. Skep dit op die kors en maak dit gelyk bo-op. Verkoel dit 2 uur lank.
  7. Bolaag: Smelt die sjokolade in die boonste deel van ʼn dubbelkastrol of in die mikrogolfoond teen 70% krag. Roer die grondboontjiebotter by en meng goed. Skep die bolaag oor die vulsel en laat dit stol.
  8. Sny dit in blokkies van ongeveer 3,5 cm x 3,5 cm en bêre in ʼn lugdigte houer in die yskas.

Bron: Lekker en Vinnig
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronklik in Vrouekeur: 50 Gesinsresepte 1, Marlo Carstens.

Net soos ʼn pannekoek met die beste resep nog steeds kan flop, kan Maroela nie pa (of ma!) staan vir enige van die resepte wat jy self by die huis probeer nie. Elke koppie meel, bakpoeier, melk, eier of enige ander bestanddeel is dus in jou eie hande en Maroela Media kan nie enige verantwoordelikheid aanvaar vir komplimente (of klagtes) oor jou kookvernuf nie. -Red

Deel van: Soetgoed

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae