Hierdie ryk yskastert is baie maklik om voor te berei.
Lewer 1 tert of 6 klein tertjies
Bestanddele
KORS
- knippie fyn kaneel
- 125 g botter, gesmelt
- 400 g (2 pakke) Romany Creams, fyngemaak
VULSEL
- 500 g melksjokolade
- 250 ml laevetroom
- 250 g (1 bakkie) laevetmaaskaas
- versiersuiker, vir afronding
- bloubessies en aarbeie, vir afronding
Metode
KORS
- Roer die kaneel en gesmelte botter by die fyngemaakte koekies.
- Druk die koekiemengsel teen die bodem en kante van ’n tertbord met 24 cm-deursnee of ses middelslag-quichepannetjies met 6 cm-deursnee vas.
VULSEL
- Verhit die sjokolade en room oor ’n lae hitte in ’n kastrol tot die sjokolade gesmelt is.
- Verwyder van die hitte en laat effens afkoel.
- Roer die maaskaas by tot die mengsel glad is.
- Skep die vulsel in die kors en plaas vir 3 uur in die yskas om te stol.
- Sif die versiersuiker bo-oor en sit saam met bloubessies en aarbeie voor.
Bron: Lekker & Vinnig: Yskasterte
Uitgewer: Lapa