Januarie is maar gewoonlik vir die meeste Suid-Afrikaners ʼn ekstra lang maand as dit by finansies kom. Hierdie maklik hoenderpastei is nie net vinnig om voor te berei nie, maar sal sommer ook jou sak pas.
Lewer 6 porsies
Bestanddele:
- 15ml olyfolie
- 8 hoenderporsies of 1 heel hoender
- 250ml hoenderaftreksel
- 1 lourierblaar
- 3 elke heel kruienaeltjies en wonderpeperkorrels
- sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
- 2 uie, gekap
- 2 knoffelhuisies, gekneus
- 250g sampioene, in skyfies gesny
- 15ml droë gemengde kruie
- 125ml kookvloeistof van hoender
Kors
- 125ml melk
- 1 eier
- 125ml olie
- 250 ml koekmeel
- ‘n knippie sout
- 10ml bakpoeier
Metode:
- Verhit ‘n bietjie van die olie in ‘n groot kastrol en verbruin die porsies of heel hoender.
- Verlaag die hitte en voeg die aftreksel, lourierblaar, speserye en soute en peper na smaak by. Prut die hoender vir 45 tot 60 minute of tot gaar.
- Skep die hoender uit en behou die vloeistof waarin die hoender gekook het. Verwyder enige vel en bene en sny die vleis in stukkies.
- Soteer die uie in die orige olie in dieselfde kastrol. Roer die knoffel, sampioene en kruie by en soteer dit ‘n paar minute.
- Roer die hoender en genoeg van die behoue vloeistof by die groentemengsel om ‘n redelike klam mengsel te kry. Geur na smaak en skep dit in ‘n oondbak.
- Voorverhit die oond tot 180 °C.
- Kors: Klits die melk, eier en olie saam. Sif die droë bestanddele saam en voeg dit by die melkmengsel om ‘n slap beslag te vorm. Voeg nog melk by indien nodig.
- Giet die beslag oor die vleis en bak dit ongeveer 30 tot 40 minute of tot goudbruin en gaar.
Bron:
Lekker & Vinnig Sakpasgeregte deur Lapa Uitgewers
In maklike hoenderpastei is daar nie knoffel onder die betsandele nie maar tog in die mengsel wat jy gaarmaak !
Wat is wonderpeperkorrels ?
Jammer om te se maar die deeg op die prentjie is nie die deeg in die resep nie – want dit is ‘n slap deeg wat jy oorgooi hoe kry jy dan die vlegsel om die rand met slap deeg?
Webblad baie gebruikersonvriendelik. Die resep kan nie eers gedruk word nie. Hoe gaan mens die resep in die kombuis kry om dit te kook?
Dagsê Andre
Ons moes ongelukkig die funksie op ons webwerf aktiveer, aangesien sommige webwerwe ons inligting onregmatig gebruik het.
Ons is besig om te werk aan die drukkerstyl om seker te maak dat die teks weer (maklik) uitgedruk kan word.
Intussen stel ek egter voor dat jy óf ʼn skermskoot maak en daarmee werk, óf alternatief kan jy regs bo op jou webblaaier (“browser”) op die knoppie klik wat soos drie horisontale lyntjies lyk (op Chrome en Firefox) of ʼn sirkelvormige ratjie (Internet Explorer). Dit maak verdere opsies oop en daar kan jy dan klik “print”. As jy nie ʼn drukker het nie, kan jy die dokument dalk in ʼn .pdf-formaat (elektronies) druk – dan kan jy makliker daarmee werk.
Ek hoop jy kom reg!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media
Ek wil graag die vinnige hoenderpastei maak maar kan nie die resep gedruk kry nie
Dagsê Sannie
Ons moes ongelukkig die funksie wat mens toelaat om teks op die webwerf te kopieer of dat iemand kan regsklik en dan die dokument te kan uitdruk, deaktiveer, aangesien sommige webwerwe ons inligting onregmatig gebruik het.
Maak gerus óf ʼn skermskoot óf klik regs bo op jou webblaaier (“browser”) op die knoppie wat soos drie horisontale lyntjies lyk (op Chrome en Firefox) of ʼn sirkelvormige ratjie (Internet Explorer). Dit maak verdere opsies oop en daar kan jy dan klik “print”. As jy nie ʼn drukker het nie, kan jy die dokument dalk in ʼn .pdf-formaat (elektronies) druk – dan kan jy makliker daarmee werk.
Ek hoop jy kuier nog sommer baie lekker verder op Maroela!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media