Soesji is ʼn Japannese gereg wat oor die afgelope paar jaar baie gewildheid geraak het in Suid-Afrika. Hoewel die proses om soesji te maak nogal ingewikkeld is en ietwat van ʼn geoefende hand nodig het, is dit groot pret as jy vriende oornooi en hulle toelaat om hul eie te maak.
Jy benodig ʼn soesji-matjie van bamboes vir oprol.
Bestanddele:
- Soesji-rys
- 200 g soesji-rys
- 450 m I koue water
- 50 ml rysasyn
- 5 ml versiersuiker
- 5 ml gepekelde gemmer, fyngekap
Soesji-vulsel
- 3 soorte groente, bv. komkommer, wortel en avokado, in juliennerepies opgesny.
- 200 g vars vis, bv. salm of tuna, in dun skywe gesny
- 8 nori-velle
- 50 g wasabi-smeer
- 50 ml gepekelde gemmer, fyngekap
Metode:
Soesji-rys
- Plaas die rys en die koue water in ʼn swaarboomkastrol en bring stadig tot kookpunt.
- Verminder die hitte tot die laagste verstelling sodra dit begin kook en bedek dit met foelie en ʼn deksel.
- Laat prut vir sowat 6 minute lank, totdat die meeste water geabsorbeer is.
- Moenie die deksel oopmaak nie, maar laat dit 5 minute lank staan om af te koel en die res van die water te absorbeer.
- Skep dit uit die pot en laat heeltemal afkoel.
- Roer die rysasyn, versiersuiker en gepekelde gemmer in.
Soesji-vulsel
- Bedek die bamboesmatjie met ʼn laag kleefplastiek.
- Plaas ʼn halwe nori-vel op die bamboesmatjie en belyn die langer kant met die bamboesstokkie.
- Maak jou hande effens nat en bedek driekwart van die nori-vel met ʼn dun lagie rys. Los ʼn kwart van die nori aan die bokant sonder rys.
- Smeer ʼn baie dun lyntjie wasabi op die rand van die rys.
- Rangskik die groente-julienne en die salm of tuna bo-op die wasabi-smeer.
- Gebruik die bamboesmatjie om die soesji op te rol en ʼn soliede rol te vorm.
- Maak die rand van die nori-vel sonder die rys effens nat om dit aan die rol te laat kleef.
- Sny dit op in 6 rolletjies van dieselfde grootte.
Bron: Die Suid-Afrikaanse Vis- en Seekos Kookboek
Uitgewer: Lapa
Nee sies man! Maak die goet gaar!! Julle kan die ding rol en draai en noem net wat julle wil maar rou is nie gaar nie…
Grotman ek stem – meeste mense weet nie dat hul so ingewanswurms kan kry nie. Siesa!