Alcaraz lus vir stryd om nommer een-posisie

Spanje se Carlos Alcaraz. (Foto: Kena Betancur/AFP)

Carlos Alcaraz, die wêreld se nommertwee‑manspeler, sê sy “lieflike stryd” met Novak Djokovic om die boonste plek te beklee dien as dryfveer terwyl hy voorberei vir die Chinese Ope in Beijing.

Alcaraz het die topgekeurde Djokovic in ʼn onvergeetlike Wimbledon-finaal in Julie geklop en kan die gaping tussen hom en die Serwiër kleiner maak met ʼn sterk vertoning in die Chinese hoofstad.

In antwoord op ʼn vraag oor of sy stryd met Djokovic hom ekstra aansporing gee, het Alcaraz geantwoord: “Ja, natuurlik.

“Ons het ʼn lieflike stryd vir die nommer een‑posisie ná Djokovic se fantastiese vertoning tydens die Amerikaanse seisoen,” het die Spanjaard gesê.

“Vir my is die nommer een-posisie een van die grootste doelwitte.”

Alcaraz is die topgekeurde speler by die Chinese Ope en sal waarskynlik Donderdag sy veldtog met ʼn wedstryd teen ʼn kwalifiseerder afskop. Djokovic, wat die Amerikaanse Ope vandeesmaand gewen het, is ʼn noemenswaardige afwesigheid by ʼn toernooi wat steeds ʼn rits groot name lok.

Dit sluit in Daniil Medvedev – naaswenner in die VSA – wat in die eerste ronde teen die Amerikaner Tommy Paul te staan kom.

Die derde gekeurde Medvedev het Woensdag gesê die mededinging inspireer hom om die seisoen op ʼn hoogtepunt af te sluit.

“Soms kan die einde van die seisoen uitdagend wees omdat al die Grand Slam-toernooie afgehandel is. Jy moet dus iewers motivering vind,” het die Rus gesê.

“Die motivering is om aan te hou om aan jouself te bewys dat jy hierdie groot toernooie kan wen, groot titels, teen groot teenstanders,” sê hy.

Vierde gekeurde Holger Rune sal Kanada se Felix Auger-Aliassime in die eerste ronde die stryd aansê.

Ander groot name by die toernooi sluit in Stefanos Tsitsipas, Audrey Rublev en Jannik Sinner.

Internasionale tennis het vanjaar na China teruggekeer nadat Beijing sy jare lange, isolasiegedrewe zero-Covid-beleid volgehou het.

Die Chinese Ope word vir die eerste keer sedert 2019 aangebied en volg op mans- en vrouetoernooie in Guangzhou, Zhuhai en Chengdu.

Die vrouetoernooi is ook terug in China nadat die internasionale beheerliggaam sy boikot van die land opgeskort het. Die WTA het betrekkinge daar laat vaar nadat die Chinese speler Peng Shuai bewerings van seksuele aanranding teen ʼn hooggeplaaste staatsamptenaar van die land gemaak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.