Amerikaanse Ope: Swiatek reik na die sterre

Iga Swiatek (Foto: US Open Tennis, Twitter)

Toe die gordyn ʼn paar jaar gelede oor Serena Williams se tennisloopbaan begin toetrek het, is daar kopgekrap wie haar sou opvolg.

Die borrelende Australiër Ashleigh Barty het sterk na vore getree en vrouetennis ʼn ruk lank oorheers voordat sy in Maart vanjaar haar skokuittrede aangekondig het.

Toe het die vrae onstaan wie in Williams en Barty se spore sou volg.

Die 21-jarige Pool Iga Swiatek het dié mantel oorgeneem en binne die bestek van ʼn paar maande tennis se rekordboeke herskryf. Dit het gevolg nadat sy twee van tennis se Grand Slam-toernooie (Franse Ope en Amerikaanse Ope) in 2022 gewen het.

Swiatek het vroeg Sondagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) op Flushing Meadows in New York op haar kragtoer voortgebou toe sy die vroue-enkelspeltitel verower het nadat sy Ons Jabeur van Tunisië met 6-2 7-6 (7-5) getroef het.

Sy was meedoënloos op die aanval en verdediging en haar grondhoue was van die hoogste gehalte.

Sy het die eindstryd in een uur en 51 minute beklink en die eerste vrouespeler sedert Angelique Kerber van Duitsland in 2016 geword wat twee Grand Slam-toernooie in een jaar kon wen.

Swiatek het soos ʼn sneltrein begin en die eerste agt van nege punte in die eerste stel gewen. Dit het Jabeur laat ontspoor en sy het eers middeweg in die tweede stel tot verhaal gekom en weerstand begin bied, maar sy kon nie vir Swiatek stuit nie.

Swiatek het vanjaar reeds 57 wedstryde gewen en die gaping tussen haar en haar teenstanders verder vergroot. Al sou sy teen Jabeur verloor het, sou sy steeds haar voorste posisie op die wêreldranglys behou het.

Swiatek was vroeër vanjaar in 37 agtereenvolgende wedstryde onoorwonne voordat sy in die vierde ronde van Wimbledon van haar troon gestamp is.

Sy was aan die wenkant in tien van haar vorige 11 eindstryde waarin sy gespeel het, wat haar segetog in die Franse Ope in 2020 ingesluit het.

Swiatek het met haar oorwinning ook die eerste speler sedert Williams (in 2014) geword wat sewe titels in een seisoen kon wen.

Jabeur se groot troosprys is dat sy die jaar as die wêreld se tiende beste speler begin het en tot tweede plek opgeskuif het.

Sy het die WTA-toernooi vroeër vanjaar in Madrid gewen en die tweede opeenvolgende keer in Grand Slam-eindstryde gespeel nadat sy die Wimbledon-eindstryd teen Elena Rybakina van Kazakstan verloor het.

Swiatek het 2,6 miljoen Amerikaanse dollar (bykans R45 miljoen rand) verdien terwyl Jabeur se prysgeld 1,3 miljoen dollar (sowat R23 miljoen) was.

Bron: US Open  

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.