Anderson is terug op die baan

Kevin Anderson is terug op die baan. (Foto: Twitter/ATP)

Kevin Anderson het sy eerste wedstryd terug op die ATP-toer gewen toe hy vir Gabriel Diallo met 6-3 en 6-2 in Newport geklop het.

Die 37-jarige Suid-Afrikaans gebore speler het in Mei 2022 sy amptelike tennisuittrede aangekondig, maar hy het die kragmeting op sy gebruiklike manier beklink: met kragtige afslaanwerk.

Hy speel later vandag in die volgende ronde teen Gijs Brouwer van Nederland.

“Dit is nog net ʼn paar maande sedert ek besluit het om my tennisreis te hervat en ek weet nie waar dit alles nou gaan eindig nie,” het Anderson gesê.

Die voormalige wêreldnommervyf-speler het ʼn goeie verstandhouding met die organiseerders van die Newport-toernooi en hy het as promotorskeuse toegang tot die ATP2050-aksie verkry.

“Ek het ʼn paar dae terug my eerste sessie op ʼn grasbaan in twee jaar gehad en ek is baie tevrede daarmee dat ek so vinnig kon aanpas.”

Volgens Anderson het ʼn gesprek met Roger Federer sy terugkeerplanne ʼn definitiewe hupstoot gegee.

“Ek en ʼn vriend het besluit om ʼn paar tennisballe by die plaaslike baan in Delray Beach te gaan slaan, toe Roger ʼn draai kom maak het,” het hy in ʼn onderhoud met ATP.com gesê.

Die Switserse tennislegende het sy agent, Tony Godsick, in die VSA besoek.

Anderson het erken dat hy aanvanklik ʼn bietjie op sy senuwees was om met die wenner van 20 Grand Slam-titels te gesels, maar soos wat die gesprek gevorder het, was hy ál meer op sy gemak.

“Dit was fassinerend om na hom te luister. Hy is waarskynlik die beste speler nog – veral as ʼn mens van sy suiwer houespel praat – en dit was ʼn ongelooflike ervaring om sy insette te kry.”

Volgens Anderson wil hy as speler wyser word namate sy nuwe loopbaanhoofstuk vorder.

“Daar gaan ʼn spul nuwe ervarings en uitdagings my pad langs kom en ek wil soveel moontlik daaruit leer. Dit is ongetwyfeld die sleutel op die pad na sukses.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.