Botterill druk dinge in die rooi

Guy Botterill en Brett Cummings laat waai in die woestyn. (Foto: Antonin Vincent/DPPI via AFP)

Guy Botterill en Brett Cummings was Dinsdag die vinnigste onder die Toyota Gazoo Racing-deelnemers in die negende skof van die Dakar-veldtydren in Saoedi-Arabië.

Die twee Suid-Afrikaners het die skof in die vyfde plek voltooi, tien minute agter Sebastien Loeb en Fabian Lurquin.

“Ja, ons het ʼn goeie lopie gehad en Brett het ons uitstekend op koers gehou. Ons het op plat klippe gery en dit was baie moeilik om die pad te volg,” het Botterill gesê.

“Tog het ons probeer om dinge ʼn bietjie in die rooi te druk en ek dink ons het ʼn goeie snelheid gehandhaaf. Die voertuig was uitstekend en ons is baie tevrede.”

Lucas Moraes en Armand Monleon het die skof in die sewende plek afgesluit, maar hulle beklee ʼn derde plek op die algehele tydleer.

Volgens Moraes het hulle in ʼn stadium die pad lelik byster geraak.

“Ons het ongeveer agt minute verloor om weer op die regte pad te kom; dit was omtrent vir jou ʼn ingewikkelde storie gewees. Ons het egter nie rede om te kla nie: Ons is beklee die algehele derde plek en die voertuig is nog in een stuk.”

Giniel de Villiers en Brett Cummings moes met ʼn 23ste plek in die skof tevrede wees.

Uitslae (negende skof):

  1. Sebastien Loeb en Fabian Lurquin (Bahrain Raid Xtreme): 04:17:33
  2. Carlos Sainz en Lucas Cruz (Team Audi Sport): 04:21:47
  3. Mathieu Serradori en Loic Minaudier (Century Racing): 04:22:16
  4. Guillaume de Mevius en Xavier Panseri (Overdrive Racing): 04:27:25
  5. Guy Botterill en Brett Cummings (Toyota Gazoo Racing): 04:27:34
  6. Stéphane Peterhansel en Edouard Boulanger (Team Audi Sport): 04:28:07
  7. Lucas Moraes en Armand Monleon (Toyota Gazoo Racing): 04:28:36
  8. Mattias Ekstrom en Emil Bergkvist (Team Audi Sport): 04:31:41
  9. Romain Dumas en Max Delfino (Rebellion Racing): 04:31:51
  10. Martin Prokop en Viktor Chytka (Orlen Jipocar): 04:33:12

Algehele tydleer:

  1. Carlos Sainz en Lucas Cruz: 37:50:57
  2. Sebastien Loeb en Fabian Lurquin: 38:11:30
  3. Lucas Moraes en Armand Monleon: 39:02:59
  4. Guillaume de Mevius en Xavier Panseri: 39:30:53
  5. Mathieu Serradori en Loic Minaudier: 39:54:41
  6. Guerlain Chicherit en Alex Winocq: 40:03:40
  7. Martin Prokop en Viktor Chytka: 40:03:45
  8. Giniel de Villiers en Dennis Murphy: 40:06:09
  9. Guy Botterill en Brett Cummings: 40:20:48
  10. Benediktas Vanagas en Kuldar Sikk: 40:50:32

Jeanette Kok-Kritzinger van Wiele2Wiele en Stephie Vetter van die Southern Africa Dakar Group hou ons op die hoogte van wat in die Dakar-tydren gebeur en hoe dit met ons Suider-Afrikaanse deelnemers gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.