Carlos lyk ook goed in Rome

Carlos Alcaraz se segetog duur voort. (Foto: Twitter/ATP)

Ná segetogte in Barcelona en Madrid is Carlos Alcaraz steeds honger vir sukses in Rome en hy het vir Albert Ramos-Vinolas met 6-4 en 6-1 in sy openingswedstryd van die Italiaanse Ope geklop.

Die 20-jarige Spanjaard staan ook gereed om vir Novak Djokovic as die wêreld se voorste speler te onttroon sodra die jongste ATP-ranglys bekendgemaak word.

Dit was sy 12de oorwinning op ʼn streep en hy het vanjaar nog net twee van sy 32 tennistweestryde verloor.

“Hierdie wedstryd was egter glad nie maklik vir my gewees nie. Elke openingswedstryd van ʼn nuwe toernooi is taai en Albert is natuurlik ook ʼn gedugte teenstander op ʼn kleibaan,” het Alcaraz gesê.

Die jong ster, wat bekend is vir sy kragtige houe, het sy landgenoot poegaai op die baan gehad. Ja, hy het sy eerste afslaanpot verloor, maar ʼn kort rukkie later was dit eenrigtingverkeer in die wedstryd en hy het 28 wenhoue afgevuur.

Djokovic speel later vandag teen Grigor Dimitrov, ʼn speler teen wie hy reeds 11 keer vantevore in sy loopbaan gespeel het.

Hoewel die Serwiër ʼn voorsprong van 10 – 1 in dié tweestryde geniet, deel die spelers die louere op kleibane.

Dimitrov het in 2013 met die louere in Madrid weggestap, waarna Djokovic in dieselfde jaar die bordjies in die Franse Ope verhang het.

Volgens die Bulgaarse speler geniet hy dit om teen die voorste spelers kragte te meet.

“Ek weet ek het nie die beste wenrekord teen Novak nie, maar ek hou daarvan om teen hom en die ander topspelers te speel. ʼn Mens weet nooit wat in ʼn wedstryd kan gebeur nie,” het Dimitrov gesê.

Uitslae:

Alejandro Davidovich Fokina klop Guido Pella met 6-0 en 7-6

Lorenzo Sonego klop Yoshihito Nishioka met 7-5 en 6-3

JJ Wolf klop Hubert Hurkacz met 6-3 en 6-4

Carlos Alcaraz klop Albert Ramos-Vinolas met 6-4 en 6-1

Andrey Rublev klop Alex Molcan met 6-3 en 6-4

Marketa Vondrousova klop Maria Sakkari met 7-5 en 6-3

Beatriz Haddad Maia klop Magda Linette met 7-5 en 6-4

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.