De Minaur knip Nadal-terugkeer kort

Rafael Nadal het sy tweede wedstryd in Barcelona teen Alex de Minaur verloor. (Foto: X/Barcelona-ope)

Rafael Nadal het moontlik vir die heel laaste keer in die Barcelona-ope afgeslaan. Die 37-jarige speler, wat vroeër aangedui het dat 2024 dalk sy laaste mededingende tennisjaar kan wees, het met 7-5 en 6-1 teen Alex de Minaur vasgeval.

“Gelukkig kon ek ʼn kans kry om hier op die baan te groet – iets wat baie vir my beteken. Ek was aanvanklik onseker oor my deelname aan die toernooi, maar ek is dankbaar dat ek darem kon speel,” het die Spaanse ster gesê.

Nadal het vandeesweek sy terugkeer teen Flavio Cobolli gemaak en die Italianer met 6-2 en 6-3 geklop.

Hy het ná dié oorwinning gesê dat hy nie weet of hy al vir De Minaur kan kers vashou nie en die veel jonger Aussie het uiteindelik net te veel skietgoed gehad.

“Alex is ʼn baie goeie speler en as ʼn mens na sy algemene spel kyk, was hy nou doodeenvoudig beter as ek. Ek is baie trots op hom en ek wil hom gelukwens – hy speel sedert die begin van die seisoen uitstekende tennis.”

Die wenner van 22 Grand Slam-titels hoop dat hy weer in die nabye toekoms mededingende spel kan opdis.

“Ek het nie baie geoefen nie, maar my vertoning teen Flavio is genoeg aanmoediging om aan te hou speel. Ek moet net saam met topspelers oefen.”

Nadal het ongetwyfeld die Franse Ope in sy visier – hy het immers reeds 14 keer die silwerware in Parys omhoog gehou.

“Ek moet op hierdie vertonings voortbou om myself ʼn kans op Roland-Garros te gee.”

Uitslae:

Stefanos Tsitsipas klop Sebastian Ofner met 6-4 en 7-5

Roberto Carballes Baena klop Lorenzo Musetti met 7-6 en 6-4

Alex de Minaur klop Rafael Nadal met 7-5 en 6-1

Dusan Lajovic klop Ugo Humbert met 6-4 en 6-4

Casper Ruud klop Alexandre Muller met 6-3 en 6-4

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.