Die kat kom weer – dié keer saam met Amazon

Argieffoto (Foto: LucasBouillon / Pixabay)

ʼn Nuuskierige kat, wat in ʼn oop boks ingeklim het, is reg oor die VSA verskeep na ʼn Amazon-pakhuis toe haar niksvermoedende eienaars haar in die boks verseël het.

Carrie Clark se troeteldier, Galena, het op 10 April uit haar huis in Utah verdwyn. ʼn Groot soektog is van stapel gestuur en plakkate met haar foto is in die woonbuurt versprei.

ʼn Veearts, honderde kilometer daarvandaan in Los Angeles, het ʼn week later die eienaars gekontak om te sê die kat is in ʼn boks opgespoor – saam met verskeie pare stewels. ʼn Personeellid by ʼn Amazon-pakhuis het op Galena afgekom.

“Ek het na my man toe gehardloop om te sê Galena is opgespoor. Ons het besef sy moes in die grootmaat boks geklim het wat ons die vorige Woensdag versend het,” het Clark aan KSL TV in Salt Lake City gesê.

Die boks was gevul met werkstewels met versterkte staalpunte. Mens bestel ʼn paar stewels om dit aan te pas voordat jy besluit watter paar jy wil koop.

Clark en haar man het na Los Angeles gereis waar hulle Amazon-werknemer Brandy Hunter ontmoet het wat Galena gered het. Die kat was honger en dors ná ses dae in die boks, maar het nie enige beserings opgedoen nie.

“Ek het geweet sy behoort aan iemand oor die manier wat sy opgetree het,” het Hunter gesê, aldus Amazon. “Ek het haar die aand huis toe gevat en die volgende dag na ʼn veearts toe sodat sy ondersoek kan word vir ʼn mikroskyfie. Die res is geskiedenis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.