Is die toekoms Engels?

Deur Clarize Strydom

Afrikaanse Taalmonument (Foto: Maroela Media)

In vandag se politieke era is dit die norm vir elkeen om ʼn politieke mening te hê. Diegene wat nie ʼn mening lewer nie, word amper net so gestenig soos die wat die “verkeerde”, liewer opponerende, mening lewer.

Daar is wel een bitter belangrike kwessie wat strek reg oor Suid-Afrika – van die EFF tot die VF Plus – en dit is spelling. Talle Suid-Afrikaners emigreer… immigreer… trek? buiteland toe as gevolg van ʼn lys probleme en meningsverskille. Politiek, die grootste kwessie by verre, maar dit laat tog frustrasie agter vir dié wat kies om te bly in hierdie sonskynland.

Dalk as gevolg van emigrante “worry” die wat agterbly al hoe minder oor spelling; korrekte spelling. Die Afrikaans-sprekende jeug van Suid-Afrika kan ook nie volle verantwoordelikheid dra vir die swak spelling nie. Daar is definitief ʼn beduidende probleem in die jeug, maar ook ʼn noembare probleem onder die res van die taalgemeenskap.

Ek het al talle artikels of meningstukke van geleerdes, doktors, professore gesien waar ek grens vir onnodige spelfoute. Geleerdes wat nog steeds as een woord huis toe bring. “Nog steeds op pad huis toe,” sê juffrou van Eck in elke tweede Afrikaans-klas op hoërskool.

Selfs Netwerk24 noem gereeld “nogsteeds”, dan kan ek net dink: waar staan dit in die woordeboek? Afrikaans kort ‘n breek (nee, nie die Wiskunde-breuk nie).

Clarize Strydom (Foto: Verskaf)

Afrikaans is vir ons Afrikaanssprekendes die mooiste taal in die wêreld; tog gebruik ons die taal verkeerd. Ons eer nie die taal soos bedoel nie. Nee, ons almal hoef nie hogere Afrikaans te praat en soos ʼn klomp verkramptes mekaar aan te spreek nie. Ons almal moet wel ten minste hoërskool-Afrikaans kan bemeester.

Ons almal moet ten minste die tweede “nie” kan onthou, maar ook weet dat die woorde “moet nie” nie bestaan nie. Moenie dit so spel nie! Selfs in die reg word daaglikse spelfoute gevind. Dosente wat doktors en professore is – jare lank studeer – maar “kontrakbreuk” word gevind.

Die oplossing? Ek is amper nie seker dat daar een is nie. Hierdie kwessie is vir te lank gelos. Hoe korrigeer jy ʼn hele volk se taal? Hoe onthou ʼn hele volk dat woorde nou anders gespel word?

Afrikaners moet WIL korrek spel; dit is ʼn totale ander kwessie. Iets so eenvoudig soos te veel moeite. “Neh” tik baie makliker as die korrekte gebruik van die gravis by nè. Afrikaners word laks as gevolg van gemak, dit is net baie jammer dat die mooi taal daaronder moet ly.

  • Clarize Strydom is 19 en studeer tans LLB by Akademia. Sy het ‘n groot passie vir Afrikaans en is lief daarvoor om in haar taal te skryf, dig en lees.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Fritz ·

As mense net kan ophou om “oooosim” en “amaaaaazing” te gebruik, sal dit al baie help.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek sukkel werklik om korrekte Afrikaans te gebruik. My laerskool Afrikaans was destyds beter. Dis ‘n frustrasie, maar ons kan seker ook nie heeldag met taalboeke onder die arm rondloop nie. Feitlik alles is deesdae in Engels. Ons mense word toenemend in Engels onderrig. Daarna is die werkstaal Engels, behalwe by kleiner firmas waar Afrikaners in die meerderheid is. Die Afrikaans wat in die media gebruik word is bloot swak. Ons praat nog Afrikaans binne gesinsverband en met ons vriende, maar sodra daar Engelssprekende moeders in ons huishoudings is sal dit ook verander. Ek eis om te dink hoe sake teen 2050 gaan lyk. Die taalkundige dr. Willem Botha sê hoeka ons gaan eintlik ‘n swak “vertaalde” Afrikaans praat.

Petrus Albertus ·

Afrikaans is ‘n baie jong taal wat nog geensins klaar ontwikkel het nie, trouens alle lewende tale bly ontwikkel en verander. Ons moet dus nie sogou moedeloos voel oor die stand van Afrikaans nie, Afrikaans se sinskonstruksie woordeskat en spelling gaan nog BAIEverander voor die einde van die 21ste eeu – en goed so! Die taal lewe, dit is nie ‘n museum-artefak nie.

Bre ·

Wel… Die toekoms is AL LANKAL Engels maar dit verhoed niemand om hul moedertaal by die huis te praat nie.

Bre ·

Wel…. Die toekoms is AL LANKAL Engels maar dit verhoed niemand om hul moedertaal by die huis te praat nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

@Bre, solank die moeder Afrikaans is, ja. Maar indien sy Engels is sal die kinders oorwegend Engels praat. Skoolonderrig is dan ook in Engels. Die volgende generasie in daai huishouding sal volbloed Engelse wees.
@PA, daai Afrikaans gaan sleg klink op die oor. Jy sal dit nie kan lees nie.

Manie ·

Die Noord-Kapenaars praat die pragtigste suiwer Afrikaans, nie die skollie Afrikaans wat in die Wes-Kaap gepraat word nie.

Nici ·

Ek dink dis maar wereldwyd ‘n probleem. In Australie kan die locals skaars hul eie taal spel. Jy’t nie eers nodig om spell check te gebruik nie, want hulle weet nog minder as jy. Ons skryf deesdae baie meer as tevore en sit minder tyd daarin as toe ons briewe gepos het.

Republikein in die Wes Kaap ·

Manie, dis ‘n feit. Maar die gemeenskappe se skole is ook onder druk. Hul geïsoleerde bestaan word bedreig. Dinge daar sal ook verander. Daarom wil ek sien dat die Noord-Kaap of gedeeltes van die provinsie ook wegbreek van SA. Ongelukkig is daar Afrikaners buite die Kaap wat dit nie steun nie.

Philip ·

Ek sal alleenlik engels praat as ek hoor n persoon wat ek aanspreek sukkel om met my te kommunikeer in afrikaans daarom weet ek nou nie of ek nou verregs of n verstokte taalbul is nie.

Cherokee ·

Clarize, dit is inderwaarheid ‘n teer kwessie wat jy hier bespreek. Ek woon in ‘n Engelse stad en die enigste plek waar ek Afrikaans praat is tuis. En ek sidder wanneer ek ek sommige kommentare lees. Afrikaanssprekendes minag hul eie taal. Terloops, die onderwyser het gesê dat ‘n sin nooit met ‘en’ begin nie, en ek verskil daaroor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.