Dis voorwaarts jaag vir Sainz

Ferrari se Carlos Sainz. (Foto: Justin Tallis/AFP.)

Die stof het nou al ʼn bietjie gaan lê nadat die nuus gebreek het dat Lewis Hamilton oor ʼn jaar in Carlos Sainz se plek agter die stuur van ʼn Ferrari gaan inskuif.

Maar in plaas daarvan om in sak en as te sit en sy lot te betreur, is die 29-jarige Sainz gerat om vir oulaas sy beste in rooi te gee.

Die Spanjaard het in ʼn onderhoud met Sky Italia gesê dat die besluit hom nie noodwendig onkant betrap het nie – ʼn F1-renjaer moet immers gereed vir enige moontlikheid wees.

“Ek wil nou nie aan enigiets anders dink as om my heel beste vir Ferrari te gee nie,” het Sainz beloof terwyl hy ook erken dat dit nie die beste nuus in aanloop tot die seisoen is nie.

“Wanneer ek my helm in Bahrein opsit, gaan ek myself tot die uiterste druk met die doel om die kampioenskap te probeer wen.”

Die Spanjaard was verlede jaar een van die min renjaers wat vir Max Verstappen kon wen en die geruite vlag is vir hom in Singapoer geswaai.

“Ek is bewus van my waarde as ’n renjaer en ek is kalm wanneer ek na die toekoms kyk. Goeie dinge sal beslis oor my pad kom, maar vir eers wil ek op alle suiers vir Ferrari vuur.”

Die F1-aksie begin amptelik weer op 2 Maart in Bahrein.

F1-kalender vir 2024:

2 Maart: Bahrein

9 Maart: Saoedi-Arabië

24 Maart: Australië

7 April: Japan

21 April: China

5 Mei: Miami

19 Mei: Emilia Romagna (Imola)

26 Mei: Monaco

9 Junie: Kanada

23 Junie: Spanje

30 Junie: Oostenryk

7 Julie: Verenigde Koninkryk

21 Julie: Hongarye

28 Julie: België

25 Augustus: Zandvoort

1 September: Italië

15 September: Azerbeidjan

22 September: Singapoer

20 Oktober: VSA

27 Oktober: Mexiko

3 November: Brasilië

23 November: Las Vegas

1 Desember: Katar

8 Desember: Abu Dhabi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.