Drama en nogmaals drama in epiese Brasiliaanse Formule Een-ren

Red Bull-bestuurder Max Verstappen van Nederland vier sy oorwinning (17 November 2019) (Foto: AP Photo/Nelson Antoine)

Die Brasiliaanse Formule-Een Grand Prix was Sondag in São Paulo soos stilte voor ʼn hewige storm.

Daar was nie te veel aksie in die eerste uur nie, min kop-aan-kop-mededinging en eintlik maar bra vervelig. Maar toe donker wolke spreekwoordelik saamgepak en die damwal hier om en by die 55ste rondte gebars het, het sake dramaties verander. Daar was chaos, ʼn warboel en dalk net die regte medisyne waarop die ondersteuners gewag het. Hewige mededinging, liplekker-tweestryde en ʼn epiese ren.

Dit het begin toe Valtteri Bottas (Mercedes) tou mos opgooi toe sy enjin onklaar geraak het. Dit het die knuppel in die hoenderhok losgelaat.

Wie sou kon dink dat Max Verstappen toe stof in die oë van die wêreldkampioen, Lewis Hamilton, sou kon skop deur sy agste F1-oorwinning te behaal?

Wie sou kon dink dat Hamilton, ondanks al sy vaardighede en bestuursvernuf, gereeld met sy span onder meer oor sy motor se kraglewering en die toestand van sy bande geredekawel het? Is dit geregverdig of is ʼn mens dalk te kras oor sy hoë standaarde?

Wie sou kon dink dat die twee Ferrari’s van Sebastian Vettel en Charles Leclerc mekaar kort voor die einde (in die 66ste van die 71 rondtes) sou afskryf met podiumplekke wat gewink het. Spanmaats?

Wie sou kon dink dat Hamilton, in sy oorywerigheid, kort voor die einde Alexander Albon (Red Bull) se drome beëindig het … en pa daarvoor gestaan het?

Wie sou kon dink dat Pierre Gasly (Toro Rosso) wat verlede jaar deur Red Bull die deur gewys het, tweede sou eindig?

Wie sou kon dink dat die twee Alfa Romeo’s vyfde en sesde sou eindig?

Wie sou kon voorspel het dat beamptes ure ná die ren nog kopgekrap het om te besluit watter jaers die ongelukke veroorsaak het en watter jaers onwettig ander jaers verbygesteek het terwyl die veiligheidsmotor ontplooi was?

Vir die rekord: Max Verstappen (Red Bull) het sy derde ren vanjaar gewen, gevolg deur Gasly (Toro Rosso), Hamilton (Mercedes), Carlos Sainz (McLaren),  Kimi Raikonnen (Alfa Romeo) en Antonio Giovinazzi (Alfa Romeo).

As Hamilton met vyf sekondes gestraf sou word, sal hy tot sewende afskuif.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.