Federer-temmer swaai ook Doha-septer

Nikoloz Basilashvili van Georgië (Foto: Samer Al-Rejjal/Qatar Tennis Federation/AFP Photo)

Vóór die Katar-ope kon Nikoloz Basilashvili net twee van sy laaste 16 wedstryde gewen het. Maar die speler van Georgië het nie net met Roger Federer in die kwariteindstryd van die toernooi afgereken nie, hy het ook uiteindelik met die louere weggestap.

Die wêreldno. 42 het gister vir Roberto Bautista Agut in die eindstryd met 7-6 en 6-2 geklop.

“Op een of ander onverklaarbare manier kry ek dit reg om beter in moeilike wedstryde te speel. Hierdie was een van die taaiste ATP250-toernooie nog omdat daar drie van die wêreld se top-10 spelers in aksie was,” het Basilashvili gesê.

Boonop het die winderige toestande verder tot die moeilikheidsgraad van die wedstryd bygedra.

“Ek het probeer om bloot net op  die spel te konsentreer en na die bal te kyk. Dit was ongetwyfeld ’n fisieke uitdaging want ’n mens moes teen die wind stoei.”

Volgens Bautista Agut – wat op soek na sy tiende ATP-titel was – het Basilashvili doodeenvoudig net beter tennis gespeel. “Ek hou niks daarvan om te verloor nie, maar hierdie was sy eindstryd gewees. Nikoloz het lekker aggressiewe en goeie tennis gespeel,” het die Spanjaard gesê.

Intussen het Federer aangedui dat hy die komende toernooi in Dubai sal misloop om vir eers weer aan sy vaardighede te skaaf.

Die 39-jarige Switserse ster het sy eerste professionele wedstryd in meer as 400 dae in Doha gespeel toe hy vir Brittanje se Dan Evans gewen het. Hy is egter kort daarna deur Basilashvili uitgeskakel.

“Dit is wonderlik om weer ’n toernooi te speel en ek het elke oomblik daarvan geniet. Ek het egter besluit dat dit wys sal wees om voorlopig weer na die oefenbaan terug te keer,” het Federer op Twitter geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.