Fernando blitsig en Carlos olik in Saoedi-Arabië

Aston Martin se Fernando Alonso in aksie onder die ligte. (Foto: Guiseppe Cacace/AFP)

Fernando Alonso is ongetwyfeld in sy noppies met sy Aston Martin-renmotor se vertoning in die tweede oefenlopie vóór die naweek se Saoedi-Arabiese Grand Prix.

Die 42-jarige Spanjaard was trouens vinniger as Max Verstappen en George Russell met sy tyd van 1:28.827 – die stel sagter bande het beslis tot die spoedpartytjie bygedra.

Volgens Alonso is hy tevrede met hoe sake staan, maar hy het ook gewaarsku om nie té gou die vreugdevure aan te steek nie: Dit is immers nog net die oefenlopies; die kwalifiserende ronde en die wedren lê nog voor.

Die voormalige wêreldkampioen het verlede jaar ʼn paar keer op die podium gestaan en volgens Timo Glock het hy ʼn splinternuwe blaadjie omgeslaan sedert hy deel van die Aston Martin-opset geword het.

“Fernando se bestuurstyl is uniek en aggressief en ʼn mens kan sommer sien dat hy pret agter die stuur het. Hy het nog nooit vantevore op só ʼn manier tot sy span bygedra nie,” het die voormalige Duitse renjaer in ʼn onderhoud met Bild gesê.

“Ek dink hy is hongerder as ooit vir sukses. Hy oefen hard en fisiek is hy tot baie in staat. Terselfdertyd is daar altyd ʼn glimlag op sy gesig en hy hou homself glad nie meer so eenkant soos voorheen nie.”

Carlos Sainz het die jongste oefenlopie in die sewende plek voltooi, maar die Ferrari-renjaer sukkel met ʼn maagkiem.

“Ek het ʼn baie moeilike 24 uur agter die blad. Ek is dankbaar dat ek aan Donderdag se oefenrondes kon deelneem, maar dit was beslis vir my die taaiste dag nóg agter die stuur van ʼn F1-renmotor. Hopelik is ek weer op my beste vir die hoofwedren, maar ek moet beslis nou eers rus,” het Sainz gesê.

Volgens die Spanjaard kon hy darem steeds waardevolle inligting oor die renmotor aan sy wedreningenieurs verskaf.

Oefenlopie 2:

  1. Fernando Alonso (Aston Martin): 1:28.827
  2. George Russell (Mercedes): +0.230
  3. Max Verstappen (Red Bull): +0.331
  4. Charles Leclerc (Ferrari): +0.353
  5. Sergio Perez (Red Bull): +0.473
  6. Lance Stroll (Aston Martin): +0.509
  7. Carlos Sainz (Ferrari): +0.628
  8. Lewis Hamilton (Mercedes): +0.677
  9. Pierre Gasly (Alpine): +0.701
  10. Oscar Piastri (McLaren): +0.767

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.